Die Blue Dot-taxidienste sal amptelik teen einde November beëindig word omdat die Wes-Kaapse regering nie geld het om die dienste verder te finansier nie.

Blue Dot is ’n aansporingsprogram en is daarop gemik om taxibestuurders te beloon vir verbeterde bestuursgedrag en hoër diensgehalte, terwyl die vermindering van onwettige bedrywighede en konflik aangemoedig word. Meer as 1 000 taxi’s reg oor die provinsie vorm deel van die projek.

Die nuus van die beëindiging van die projek het talle taxi eienaars en bestuurders ontstel. Mandla Hermanus, voorsitter van die SA Nasionale Taxiraad (Santaco), sê hulle is ongelukkig oor die besluit om die projek te stop.

“Ons is ongelukkig en teleurgesteld oor die provinsiale regering se besluit. Ons glo as hulle die wil en toewyding het om die bedryf te transformeer en te subsidieer, hulle maklik die nodige finansiering kan vind.”

Nadat die Wes-Kaapse kabinet die projek in September 2020 onderskryf het, het die Blue Dot-dienste in Mei 2021 amptelik in werking getree. Die provinsiale regering het die afgelope 18 maande R215 miljoen in die projek belê.

Elke taxi wat deel uitmaak van die projek is nagegaan om te kyk of dit veilig is en het ’n groot blou plakker op waaraan dit uitgeken word. Daar is ook opspoorders in die voertuie geïnstalleer wat die departement in staat stel om die taxi’s te monitor. Pendelaars wat gebruik maak van ’n Blue Dot-taxi kan hul terugvoer oor die spesifieke taxi waarvan hy/sy gebruik maak aan die departement stuur. ’n WhatsApp-lyn en USSD-funksie is hiervoor opgestel waarna die terugvoer gestuur word saam met die taxi se unieke Blue Dot-kode.

Daylin Mitchell, LUR vir mobiliteit, sê die minibustaxibedryf speel ’n kritieke rol in die Wes-Kaapse ekonomie. Hy voeg by dat taxi’s 75% van alle openbare vervoerdienste uitmaak en daagliks sowat twee miljoen pendelaars vervoer.

“Ons het gewys dat die Blue Dot-loodsprojek werk. Ons het egter die ondersteuning van die nasionale regering nodig om die voortsetting en uitbreiding van hierdie kragtige loodsprogram te finansier. Die finansiering van hierdie program is die mandaat van die nasionale departement. Waar die spoordienste in Suid-Afrika amper in duie gestort het, wys hierdie program hoe ons vinnig kan ingryp om die openbare vervoerbedryf te verbeter.”

Die dienste het goeie resultate oor die afgelope paar maande gelewer. Volgens Mitchell het 82% van pendelaars in ’n opname gesê dat hulle veiliger voel wanneer hulle gebruik maak van ’n Blue Dot-taxi.

Die nasionale departement van vervoer het egter, by monde van Lwazi Khoza, minister Fikile Mbalula se woordvoerder, gesê dat begrotingstekorte almal raak, insluitend die nasionale vervoer­departement.

  • The Blue Dot taxi services will officially end at the end of November because the Western Cape government does not have the funds to continue funding the services.

You need to be Logged In to leave a comment.