Ten spyte van al die kritiek wat die gemeenskap daagliks uitspreek teenoor ons munisipaliteit, wil ek wel net daarop wys nie als is net sleg nie.
Sondag was ek en my gesin verskriklik beïndruk met die toestand van die blomtuin op Paarlberg.
Ons het wakker geword en met die sonnetjie wat wil-wil uitkom, het ons besluit ons soek bietjie vars lug, maar het nie kans gesien om ver te ry nie. Ons pak toe ons piekniekmandjie en ry die berg op.
Gelukkig vir ons is die pad pas geskraap; ek weet die wintermaande eis sy tol op die bergpad asook die toenemende verkeer.
Die berg is pragtig groen op die oomblik en die heide en proteas blom te pragtig. Maar gekom by die blomtuin het ek eers besef hoe bevoorreg ons is om hierdie pragtige juweel op ons drumpel te hê, en boonop hoe mooi die berg en natuurtuin bewaar word.
Die tuin was om 11:00 reeds taamlik vol, maar almal wat daar was, was soos ons, natuurliefhebbers en het die buitelug terdeë geniet.
Die vullisblikke en braaiplekke was almal mooi skoon en die kleedkamers silwerskoon.
So het ons ’n wonderlik dag in ons berg geniet – baie dankie aan die munisipaliteit dat julle dit vir ons bewaar, vir ons en ons nageslag.

