’n Groep inwoners van Groenheuwel in Paarl-Oos glo die stig van ’n blokwag in die gebied kan help om die voortslepende skietery en bendeverwante aktiwiteite hok te slaan, mits hulle die ondersteuning van die plaaslike polisie en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) kry.

Volgens een van die inwoners, wat verkies om anoniem te bly, is ’n brief op 22 Mei vanjaar gerig aan kol. Wellington Stephans, die voormalige stasiebevelvoerder van Paarl-Oos-polisie, die bestuur van die GPF in die gebied, asook die bestuurder van Paarl-Oos-polisie se Sektor 1. In die brief, wat Paarl Post onder oë gehad het, is die Paarl-Oos GPF en die Paarl-Oos-polisie se Sektor 1-bestuurder uitgenooi vir ’n vergadering op 8 Junie in verband met die stig van ’n blokwag.

“Alles wat hulle vir ons gesê het ons moet doen, het ons op die ou einde gedoen, maar op die vergadering self het net meneer [Aylmer] Manko van die GPF uitgekom. Tot en met nou het niemand nog vir ons kom vra of gebel om te vra hoe ver is dinge nie. Hulle neem dan nou nie die gemeenskapslede aan die hand nie. En kyk hoeveel moorde het nou alweer gebeur nadat ons hulle genader het. Monicastraat is dan nou die battlefield waar die skietery so plaasvind.”

Die inwoner meen die gebied is ’n rooi sone, maar die polisie en GPF stel nie belang om hande te neem met die gemeenskap om saam die kwessie te takel nie.

“ ’n Blokwag monitor net vier tot ses strate. Ons is sowat 20 mense wat in die onderskeie strate woon en belangstel om die blokwag te vorm. Dan kan ons die strate monitor, met mekaar kommunikeer en ook die polisie ontbied wanneer dit nodig is.

“Ons voel die polisie moes eintlik gespring het toe ons die voorstel maak, want hier is iemand wat nog iets wil doen. Hulle bly net by e-posse en sien nie eens die cry for help nie. So, hulle wil seker uitkom vir moorde en nie vir prevention nie.”

Paarl Post het navrae gerig aan die Wes-Kaapse departement van polisie­toesig en gemeenskapsveiligheid oor die prosedures wat gevolg moet word om ’n blokwag en buurtwag op die been te bring.

Ishaam Davids, ’n woordvoerder van die departement, sê die gemeenskapslede kan kontak maak met die departement se buurtwag-administrasie-eenheid wat hulle sal bystaan deur die prosesse wat gevolg moet word. Davids sê die volgende beamptes van dié eenheid kan gekontak word omdat hulle spesifiek werk in die gebied waar die inwoners die blokwag wil stig. Hulle is Deon Dwarte, Meagan LeKeur en Fadia Ismail.

“Potensiële aansoeker-buurtwagte moet met die bogenoemde amptenare skakel, wat hulle telefonies kan bystaan om die akkreditasie-aansoekvorms in te vul, indien nodig. Indien verdere persoonlike bystand benodig word, sal die veldspan help. Die buurtwag-administrasie-eenheid (hierbo genoem) kan besonderhede verskaf van amptenare om in so ’n geval te kontak.”

Met die stig van ’n buurtwag, sê Davids, moet die gemeenskap eerstens ’n struktuur vorm met die doel om die gemeenskap te beskerm.

“Die veldwerker van die departement van polisietoesig en gemeenskaps­veiligheid sal hulle voorsien van ’n akkreditasie-aansoekvorm wat hulle volledig moet voltooi en by die departement moet indien.

Sodra dit ingedien is, sal die departement hul aansoek evalueer en as alles in orde is, sal hulle geakkrediteer word. Die volledige akkreditasievereistes word uiteengesit in hoofstuk 3 van gemeenskapsveiligheidsregulasies, 2016.”

Davids brei verder uit oor die oprig van ’n blokwag.

“ ’n Blokwag is gefokus op ’n kleiner deel van ’n groter gemeenskap. Daar word kennis geneem dat die departement nie oor die algemeen blokwagte akkrediteer nie, slegs buurtwagte, aangesien die meeste blokwagte te klein is en funksionaliteit nie volhoubaar is nie.”

Indien ’n buurtwag geakkrediteer is by die departement, bied dit vir hulle die geleentheid om toegang tot finansiering en opleiding te verkry. Hulle word ook ’n beginnerstel verskaf.

Paarl Post het die aantygings onder die aandag van Paarl-Oos-polisie se tussentydse bevelvoerder, lt.kol. Mzimkulu Jack, en die GPF se voorsitter, Raymond Fransman, gebring.

Volgens Fransman is Aylmer Manko die GPF se ondervoorsitter en het hy die organisasie verteenwoordig.

“Die betrokke party/e is welkom om direk kontak te maak met die GPF met enige vrae of voorstelle om ons toe te laat om ons mandaat te vervul.”

Jack het bygevoeg dat die betrokke inwoners glo reeds by die polisiekantoor was om vingerafdrukke te laat neem as deel van die proses om ’n blokwag of buurtwag te stig.

. Vir meer inligting oor die stig van ’n buurtwag of blokwag, kontak Deon Dwarte (084 604 8888; Deon.Dwarte@westerncape.gov.za), Meagan LeKeur (083 277 5919; Meagan.LeKeur@westerncape.gov.za) en Fadia Ismail (082 264 5599; Fadia.Ismail@westerncape.gov.za).

. A group of residents of Groenheuwel in Paarl East believe the establishment of a block watch in the area can help curb the ongoing shootings.

You need to be Logged In to leave a comment.