Die blokhuis in Wellington op die R44-Hermonpad is oor ’n tydperk van sowat 15 jaar geplunder.Foto: Johané Scott


Die bekende blokhuis noord van Wellington is al so deel van die gemeenskap soos die Bergrivier in die Boland.

Dit is in 1934 as ’n nasionale erfenisgebou bestempel. Oor ’n tydperk van sowat 15 jaar het die Wes-Kaapse Erfenisowerheid op provinsiale vlak geen stappe geneem om die blokhuis in Wellington te beskerm of te restoureer nie ten spyte van talle pleidooie van die Wellington-gemeenskap. Die erfenisgebou is in dié tydperk geplunder.

Die oorspronklike staaldeure, omheinings, geute en pale is gesteel en haweloses, wat soms in die gebou slaap, het met die oorspronklike houtstrukture vuurgemaak wat daartoe gelei het dat die dak inmekaargestort het. Ook die plaatjie van die Historiese Monumente Kommissie is gesteel.

Wellingtonners word intussen met dié onooglike struktuur gelos wat langs die R44-Hermonpad, ’n deurpad, staan.

Die Blokhuis is die eiendom van die departement van openbare werke, maar die omliggende grond vorm deel van die plaas Versailles.

In 2013 het Wellington se Moth-orde (Memorable Order of the Tin Hats) die Blokhuis met diefwering toegerus, maar dié gebou is steeds geplunder. Verder het ander sakeondernemings in Wellington al aangebied om hout en verf te skenk sodat die Blokhuis gerestoureer kan word, maar dit moes van die hand gewys word omdat hulle nie toestemming by die departement van openbare werke kon kry nie.

Blokhuise is gedurende die Anglo-Boereoorlog deur Britse magte gebou om spoorweë tussen Kaapstad, Vrystaat en Transvaal te beskerm.

Boeremagte het gedurende dié oorlog spoorweë beskadig om te keer dat die Engelse toerusting en ander goedere na hul weermagbasisse kan vervoer.

Die Britse weermag het vóór die blokhuise gebou is slote gegrawe om weerstand teen die guerrillataktiek te bied, maar die spoorweë is tussen Desember 1900 en Februarie 1901 só beskadig dat die Engelse ’n ander plan moes beraam.

In 1901 is baie permanente en tydelike blokhuise gebou.

Die blokhuise is eers drie kilometer uitmekaar gebou, maar later selfs so naby as 200 meter sodat dit vir mekaar sigbaar kon wees. Dit het ook Boeremagte se bewegings beperk omdat daar so baie was.• What lies in the future for the historic block-house in Wellington which is in rack and ruin due to vandalism?

You need to be Logged In to leave a comment.