Die bloekombome in Newton, op die hoek van Jan van Riebeeck-rylaan en die Bo Dal-pad, word al hoe meer ’n bekommernis vir motoriste en Newton-inwoners wat soms lafenis onder die bome soek.
Die bekommernis spruit uit die feit dat die bloekombome soms omval, veral wanneer die wind sterk waai. ’n Motoris wat gereeld van die Bo Dal-pad gebruik maak, vertel daar het onlangs ’n boom omgeval en net-net ’n voertuig gemis.
Maahir Pretorius, hoof van die plaaslike gemeenskapsorganisasie House to House Movement, en ook ’n inwoner van Newton, het onlangs met Paarl Post gesels.
Volgens Pretorius staan die gedeelte waar die bome geleë is onder inwoners as “Die Bos” bekend.
“Newton het geen openbare ontspanningsplekke nie en mense van sover as Wellington en selfs Paarl kom gereeld hier piekniek hou, insluitend menige ‘skelm’ vryers in die aande. Hierdie mense móét bewus gemaak word van die gevaar om hul voertuie te parkeer onder hierdie bome wat lank reeds sigbare tekens van verrotting en ontworteling toon, veral ná die afgelope nat winter,” sê Pretorius.
Hy vertel verskeie van die bloekombome het al in die verlede oor die Bo Dal-pad geval en selfs oor Jan van Riebeeck-rylaan. Dit het ook die vloei van die verkeer erg geaffekteer.
“Die eienaars van Diemersfontein het reeds hul bome kort gesny om veiligheid te verseker vir almal wat hul gebied betree. As inwoners vereis ons dieselfde proaktiewe diens van die Drakenstein-munisipaliteit se parke-bestuur in verband met ‘Die Bos’.”
Navrae oor Die Bos se bome is aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig, waarop Eda Barnard, waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, geantwoord het.
“Drakenstein-munisipaliteit se omgewingsbestuurswerk, wat bome en ander aspekte van tuine en oop ruimtes insluit, volg ’n program waarvolgens bome in Drakenstein gesnoei word,” sê Barnard.
“Wanneer spesifieke probleme met bome onder ons aandag gebring word, stel ons span dadelik ondersoek in en tree dienooreenkomstig op. Ons inwoners se veiligheid is baie belangrik vir ons en ons parke-afdeling sal hierdie versoek prioritiseer.”