Bloeityd vir landelike skole

Die landelike skole rondom Wellington is vinnig besig om ’n splinternuwe bloeityd te belewe, ondanks die feit dat feitlik al hierdie skole ’n jaar gelede so amper-amper deur die provinsiale onderwysowerhede gesluit is.


Die landelike skole rondom Wellington is vinnig besig om ’n splinternuwe bloeityd te belewe, ondanks die feit dat feitlik al hierdie skole ’n jaar gelede so amper-amper deur die provinsiale onderwysowerhede gesluit is.

’n Landelike skool soos die destydse Blouvlei Primêre Skool is trouens gedwing om sy deure te sluit, maar die skool het op ’n wonderbaarlike wyse uit die stof opgestaan en floreer tans as die Blouvlei Akademie – ’n skool propvol vrolike kinders wat hul skool op splinternuwe wyse beleef en geniet.

Die Groenberg Primêre Skool is ook, soos talle ander Wellingtonse landelike skole, ’n ruk gelede deur sluiting in die gesig gestaar. Destyds is aangevoer die koste het te hoog geraak om plaasskole te bedryf en leerders moet eerder na die groter laerskole op Wellington oorgeplaas word.

Die eienaars van plase rondom Wellington het in dié tyd die eerste stappe geneem om die landelike skole te red. Die plaaslike boerevereniging het handboeke vir die leerders bymekaargemaak om te sorg dat elke leerder die nodige handboeke aan die begin van die skooljaar gratis ontvang.

Benewens gratis boeke vir die leerders van Groenberg ondersteun die boerevereniging die skool ook maandeliks met ’n ruim finansiële bydrae, genoeg om voorsiening te maak vir die salaris van ’n ekstra onderwyser. Die boerevereniging het ook pas begin om ’n deel van die skoolterrein gereed te maak vir netbalbane wat met ’n ruim finansiële bydrae van die provinsiale administrasie gebou gaan word.

Die Blouvlei Primêre Skool is indertyd deur die onderwysowerhede gesluit. Leerders is gedwing om vroegdag in die pad te val om met taxi’s by die dorpskole te kom. Die vervoerkoste was hoog en ouers het swaargekry om die nodige geld in die hande te kry om hul kinders by die skool te kry.

Blouvlei se skool het egter kort ná sy sluiting weer wonderbaarlik herrys danksy die ingryping van ’n organisasie, die Fynbos-gemeenskapstigting, wat ’n paar jaar gelede op Stanford in die Suid-Kaap gestig is om te keer dat landelike skole daar gesluit word.

Dié organisasie het sy vleuels wyer begin sprei en gehelp om die eertydse skooltjie in die Blouvlei te omskep in ’n onafhanklike skool wat tans as die Blouvlei Akademie bekend staan.

Die skoolgeboue, wat aan die VGK behoort, is behoorlik opgeknap en onderwysers is weer aangestel.

Vandag is die Blouvlei Akademie ’n groeiende skool wat met allerhande interessante inisiatiewe, soos spesiale kursusse in vaardigheidsonderrig vir leerders, hul kanse om werk na skool te kry, verbeter.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.