Die toneel in Van der Stelstraat waar ’n man tydens jaagtog met die polisie doodgeskiet is.Foto: Rasaad Adams


Erfenis-naweek in die Paarl het op ’n bloedige wyse begin met drie inwoners wat Vrydag in afsonderlike skietvoorvalle dood is, en ’n derde wat met ernstige skietwonde gehospitaliseer is.

In die een voorval in Van der Stelsrylaan oorkant die Thusong-sentrum is ’n man dood nadat ’n jaagtog tussen hom en die polisie in ’n skietery ontaard het.

Die man het glo met ’n gesteelde voertuig probeer wegkom en is dood toe die polisie op hom geskiet het, het kapt. Anthony Sauls, Paarl-Oos polisiewoordvoerder aan Paarl Post bevestig.

In ander twee afsonderlike voorvalle is ’n jongman naby sy huis in Hillside aan die ooste van Paarl afgemaai. ’n Ander man is ook dieselfde aand met skietwonde gehospitaliseer nadat hy ook in Hillside geskiet is, het Sauls bevestig.

Die motiewe vir hierdie twee voorvalle is nog onbekend.

Paarl Post het ook verneem van ’n sakeman van die Paarl wat Vrydagmiddag in Klapmuts tydens ’n vermeende rooftog afgemaai is.

Die polisie in Klapmuts kon teen publikasietyd nie dié voorval aan Paarl Post bevestig nie.

Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle aangekeer nie.

*Hierdie is ’n ontwikkelende storie. Hou Paarl Post dop vir meer.

You need to be Logged In to leave a comment.