Die Drakenstein-munisipaliteit se afdeling vir openbare veiligheid se vloot word tans opgradeer.
Eda Barnard, Drakenstein se uitvoerende direkteur van openbare veiligheid, het die nuus bevestig. Sy sê dit is deel van die munisipaliteit se langtermyn- asook batebestuurstrategie, om die Drakenstein-gemeenskap meer doeltreffend te dien.
“Die opgradering van die vloot sluit in voertuie vir die munisipaliteit se wetstoepassings-, verkeersdienste- en brandweerdienste-afdelings,” verduidelik Barnard. “In die 2023-’24-boekjaar is voertuie vir die brandweerdienste- en wetstoepassings-afdelings bestel, waarvan vier Volkswagen Polo GTi-motors reeds in gebruik geneem is. Die voertuig vir brandweerdienste sal in die komende paar maande afgelewer word.
“Hierdie strategie word ook in die nuwe boekjaar voortgesit, waarin verdere opgradering van die vloot sal plaasvind. Die munisipaliteit het as deel van sy groter batebestuur ook nuwe voertuie vir ander afdelings aangeskaf.”
Op die vraag of die nuwe voertuie beteken dat wetstoepassers in Drakenstein van nou af 24 uur per dag en sewe dae per week gaan werk, het Barnard die volgende geantwoord: “Die skofte van beide die munisipaliteit se verkeersdienste- en wetstoepassings-afdelings is aangepas om oor naweke en op besige weeksaande personeel aan diens te hê, soos nodig.”
Barnard het nie onthul hoeveel die nuwe voertuie die munisipaliteit gekos het nie.