Een veiligheidswag van G4S is beseer toe die rowers by die vulstasie op hul losgebrand het. Foto: Rasaad Adams
Een veiligheidswag van G4S is beseer toe die rowers by die vulstasie op hul losgebrand het. Foto: Rasaad Adams

‘n Transitorooftog by die Engen-vulstasie die afgelope Dinsdag (17 Junie) waartydens twee transito-wagte gewond is, het skokgolwe oor die Drakenstein-vallei gestuur, met sommige inwoners wat dit as ‘n ‘ongewone misdaad’ vir dié gebied beskryf het.

Ooggetuies vertel minstens agt mans – sommige gewapen met AK-47’s – het die vulstasie omstreeks 08:30 bestorm en op die wagte van die maatskappy G4S en hul geldwa begin skiet.

“Dit was ‘n oor-en-weer-skietery,” het een ooggetuie op die toneel aan Paarl Post vertel.

Sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag aan Paarl Post gesê die wagte het glo ten tyde van die rooftog geld by die winkel gaan afhaal.

“Een veiligheidswag is in die kop gewond toe hy aangeval is en die bestuurder van die geldwa is in die been geskiet.

“Die verdagtes het met ‘n onbekende bedrag geld weggekom,” sê Twigg.

Die wagte is op die toneel deur paramedici vir hul wonde behandel en vir verdere behandeling na ‘n hospitaal in die omgewing vervoer.

Die vulstasie se personeel is ongedeerd.

Luidens ‘n boodskap op een van die plaaslike noodgroepe is twee voertuie tydens die rooftog gebruik.

“Daar was sowat sewe tot agt mans. Hul gesigte was bedek en hulle was gewapen met AK-47’s en 9 mm-pistole. Versekeie skote is afgevuur,” lui die boodskap.

Twigg het nie by navraag bevestig na presies hoeveel rowers die polisie op soek is nie.

Hy sê wel ‘n saak van ‘n gewapende rooftog en twee poging-tot-moord-sake word tans deur die Mbekweni-polisie ondersoek.

Die voorval volg twee maande nadat ‘n veiligheidswag van die maatskappy ADT Cash Services in ‘n transitorooftog op 15 April by die Mbekweni-treinstasie gewond is.

In dié voorval is hoë- kaliber-vuurwapens, soortgelyk aan AK-47’s, glo gebruik.

Die verdagtes het toe ook met ‘n onbekende bedrag geld weggekom en in ‘n wit Toyota Corolla, wat later in die Vlakkeland-omgewing verlate gevind is, weggekom.

Meer as 200 transitorooftogte is volgens die Cash-In-Transit Association in South Africa (Citasa) in 2024 landwyd aangemeld.

KwaZulu-Natal is as die provinsie met die hoogste risiko met 27% van die rooftogte geïdentifiseer, gevolg deur Gauteng (25%), die Oos-Kaap (21%), Mpumalanga (8%), die Wes-Kaap en Noordwes (onderskeidelik 6%), Vrystaat (5%) en Limpopo (2%)

Hierdie berig is aangepas sedert aanvanklike publikasie

You need to be Logged In to leave a comment.