Die 2022-Boland-klubrugbyliga het tot ’n einde gekom, en een klub wat vanjaar baie in rugbykringe bespreek is, was die Wellington-rugbyklub, wat boaan die sentraal-streekuitdaag se punteleer geëindig het en as sentraal se streek-uitdaagligawenners aangewys is.

Dit was ’n droomseisoen vir Wellington se dorpspan, maar die pad tot bo was gewis nie maklik nie.

Wellington RVK, wat sedert 1941 al 17 keer Boland se grootuitdaag-kampioene was, het sy plek in Boland se Grootuitdaag-kompetisie in 2016 verloor en afgeskuif na die Streekuitdaag-kompetisie.

Die ses jaar daarna het die klub, die spelers en die bestuur hard gewerk om die klub se deure oop te hou. Volgens die voorsitter, Andries van der Merwe, was die 2022-voorbereidingseisoen net so moeilik, en die klub het soms skaars genoeg spelers gehad om ’n span te vul.

Daarbenewens was 2022 ook die jaar wat die Wellington-rugbyklub se jare lange leier en oud-voorsitter, oom Dolf Stemmet, dood is en ook die jaar van die tragiese ongeluk waarin hul eerstespanvleuel, Kean Alexander, verongeluk het.

Ongeag al die terugslae was die afrigters, Charlwin Seroot en Jaco Stander, steeds positief en nie bang vir die uitdaging nie. Hulle het elke oefening met groot erns hanteer. Die gees en drif was aansteeklik en het na die spelers oorgespoel, en met elke oefening het die getalle op die veld ook toegeneem.

Die nuwe bestuur het hard agter die skerms gewerk en ’n paar borge verkry, wat met nuwe rugbytruie gehelp het. Die spanbestuurder, Morne Horne, sê die grootste bydraer tot die seisoen se sukses is goeie spel en die gees van die spelers.

“Hulle het elke wedstryd met trots gespeel.”

Hy het ook die klub se lojale ondersteuners, wat elke Saterdag bankvas agter hul span gestaan het, geprys.

Wellington het vanjaar 16 ligawedstryde gespeel, waarvan hy 14 gewen het, en slegs een – teen Young Blues – verloor, en ook slegs een gelykopwedstryd gespeel – die teen Villagers Newton.

Die Wellington-rugbyklub is wat hy ’n “stepping stone” vir jong rugbyspelers noem, en het al oor die jare talle bekende rugbyspelers opgelewer, onder wie Dawie de Villiers, Marius Joubert en Frankie Horne.

As wenners van die Streekuitdaag-kompetisie vanjaar sal Wellington in die 2023-seisoen met mening na die Grootuitdaagkompetisie terugkeer, wat meer blootstelling vir sy spelers beteken.

You need to be Logged In to leave a comment.