’n Laerskoolonderwyser van Wellington is tans die voorloper in die stryd om as die volgende Meneer Suid-Afrika gekroon te word.
Heinrich Gabler (26) hoop dié kompetisie kan hom ’n platform gee om ander mense en veral kinders te inspireer.
Tien jaar gelede sou hy ’n onwaarskynlike kandidaat gewees het om ’n mededinger vir die glansryke titel te wees.
Toe hy 11 jaar oud was, is sy ma oorlede en sy pa was skoonveld. Heinrich moes by die Andrew Murray-kinderhuis in Wellington gaan bly, vertel die onderwyser van Hugenote Laerskool.
“Ek was verward en ek gewonder of my lewe nou verby is,” sê Heinrich.
Destyds was sport vir hom ’n uitlaatklep, vertel hy in ’n Wellingtonse koffiewinkel. Hy kon nie wag om in die middae saam met sy skoolmaats te gaan rugby of krieket oefen nie.
“Al jou maats is daar en julle oefen en dis net lekker,” vertel hy terwyl hy wild beduie.
“Jy is net daar op die sportveld en julle maak grappies. Jy dink nie aan al jou probleme nie.”
Hy is steeds ’n kranige sportman. Hy oefen gereeld by die gimnasium en draf ook vir die Wellington-rugbyklub uit.
Aanvanklik was Heinrich se groot droom om provinsiaal rugby te speel. Terwyl hy met ’n beurs aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) vir ’n onderwysgraad studeer het, het hy ook vir die o. 21-Boland-Kavaliers uitgedraf.
In sy vierde jaar is hy gevra om laerskoolrugby af te rig en hy het onmiddellik agtergekom dat hy met kinders wil werk.
“Ek probeer regtig om ’n hegte band met die skoolkinders te smee,” vertel hy. As skoolkind het sommige afrigters en onderwysers ’n groot rol in sy lewe te gespeel. Nou probeer hy om self ’n mentorfiguur vir die skoolkinders te wees.
“Dit is soms geestelik uitputtend,” gee hy toe, “want mens gee so baie van jouself vir die kinders maar dit maak my gelukkig om hopelik iets vir hulle te beteken.”
Oor sy deelname aan die Meneer Suid-Afrika-kompetisie lag hy ietwat verleë. Dit is iets wat hy wou doen vandat hy aan Mnr. Hugenote op Hoërskool deelgeneem het.
Hy het verlede jaar ook aan die kompetisie deelgeneem en die top-12 gehaal, maar hierdie jaar het hy weer ingeskryf. Hierdie keer met die doel om met die titel weg te stap.
“Ek dink dis ’n wonderlike platform om mense te help en te inspireer,” vertel hy.
“Die kompetisie gaan nie net oor hoe jy lyk nie maar dit gaan ook oor wat in jou hart aangaan.”
Alle finaliste van die kompetisie moet in hierdie stadium geld vir ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse insamel. Heinrich het al R15 000 ingesamel vir die niewinsgewende organisasie, CHOC, wat kinders met kanker ondersteun. Eendag sal hy ook graag sy eie liefdadigheidsorgisasie op die been wil bring.
“Die organisasie sal tweedehandse sporttoerusting aan behoeftige kinders verskaf,” vertel hy.
Destyds, in die kinderhuis, het sport sy lewe gered, glo hy.
Dis waarskynlik deels te danke aan sport dat Heinrich nou ’n kans het om met een van die gesogste titels weg te stap.