Ná 80 jaar staan LIG-tydskrif steeds stewig in sy stewels in Wellington.
’n Goed geïllustreerde, gewilde maandblad wat oor die werk en lewe van die kerk vertel. Dít was die droom van ’n paar predikante van die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Transvaal. En daarom het dominee Attie Burger by die destydse Transvaalse sinode in 1937 gevra dat so ’n blad begin moet word.
Op 1 Desember 1937 het die eerste uitgawe van Die Voorligter verskyn.
Ouderlinge en diakens het dit na elke huis versprei. En só is die kerk se lewe en werk aan lidmate en huisgesinne vertel.
Die oorlog en papierskaarste het gemaak dat Die Voorligter vir ’n tyd lank sonder ’n voorblad verskyn het. Maar einde 1946 het Die Voorligter ’n nuwe baadjie aangetrek. Met sy nuwe buiteblad het dié kerkblad ’n nuwe era ingegaan.
Burger het in 1948 oorgeneem as deeltydse redakteur en het van 1957 voltyds as redakteur gedien. Burger het duisende myle in en buite die land gereis om so te sê al die destydse bestaande inrigtings, sendingstasies en georganiseerde werksaamhede van die kerk te besoek. Honderde foto’s en dosyne artikels oor die kerk in aksie het in Die Voorligter verskyn.
In 1947 het die legendariese latere volksraadslid en senator Sporie van Rensburg as tegniese redakteur begin dien. Die Voorligter het noustrop getrek onder finansiële druk.
Papier was duur en advertensie-inkomste was laag. Van Rensburg het aanbeveel dat Die Voorligter ’n kleiner lettertipe gebruik en sodoende kon minder papier gebruik word om al die leesstof in te pas.
Groot was die vreugde toe Die Voorligter 31 Oktober 1951 ’n wins van R4 100 kon toon en die skuld en rente van R3 000 by die kerkkantoor kon vereffen.
Aan die einde van daardie jaar het die redaksie sy drome om Die Voorligter na die ander provinsies van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika uit te brei, aan die sinode voorgelê. Die Voorligter het ook nou met ’n nuwe, groter formaat gespog.
In 1957 is ’n kommissie aangestel om te besluit hoe die amptelike kerkblad, Die Kerkbode en die Transvaalse kerkblad, Die Voorligter, in die kerk oor die hele Suid-Afrika versprei kon word. Daar was egter spanning tussen die twee publikasies omdat die een bang was dat die ander bevoordeel sou word.
Maar 1 Januarie 1960 het die Raad van Kerke Die Kerkbode en Die Voorligter onder ’n kommissie van beheer oor kerklike tydskrifte geplaas. Daar is ook ’n ooreenkoms gesluit waar Die Kerkbode weekliks verskyn en Die Voorligter elke maand as bykomende gewilde uitgawe sal verskyn.
Die Voorligter is vir dekades van huis tot huis afgelewer toe diakens maandelikse tiendes ingesamel het. In die jare sewentig het Die Voorligter se maandoplaag tot 188 000 gestyg. En teen die einde van daardie dekade verander Die Voorligter se formaat weereens om by moderne tydskrifte aan te pas.
Die Voorligter het gaande weg ’n minder Transvaalse en kerklike kleur gekry en is omskep in ’n meer algemene Christelike tydskrif.
In 1967 is Willie Maree as voltydse assistentredakteur aangestel en drie jaar later het hy die redakteurskap oorgeneem. Hy was tot 1989 redakteur en ook die eerste niepredikant wat hierdie pos beklee het.
Dr. Frits Gaum het 1989 die leisels oorgeneem en was dieselfde tyd ook redakteur van Die Kerkbode.
Toe die eeu draai, het die tydskrif met ’n korter en meer eietydse naam, LIG, begin om in die opemark met ander tydskrifte mee te ding. Ds. Johann Symington het in 2004 redakteur geword en dié tendens voortgesit.
Adri-Louise van Renen, toe reeds lank die blad se adjunkredakteur, het in 2005 die leisels by Symington oorgeneem.
Sy het ’n groot rol daarin gespeel om LIG mededingend in die opemark te vestig deur sterk te fokus op menslike verhale veral ook dié van glanspersoonlikhede.
In rubrieke is goeie raad vir ’n gesonde, Christelike leefstyl gegee met klem op die gesin.
Die blad het in voorkoms en styl veral aanklank by vroue gevind.
Ná Adri-Louise se ontydige dood in 2014 het Francine van Niekerk die redakteur geword. Die tydskrif het bly fokus op gesinne en geloofstories wat lesers inspireer om in hul geloof te groei.
LIG het ook aangepas om op die sosiale media en die internet ’n sterk teenwoordigheid te hê. Vandag is dit ’n glanstydskrif met Christelike inhoud wat elke lidmaat van die kerk, maar ook dié wat nie aan ’n kerk verbind is nie, se lewe te verryk en te inspireer.

