Chantélle Hartebeest
Die Paarl en die breër Drakenstein-gemeenskap het ‘n groot steunpilaar verloor met die afsterwe van die bekende bibliotekaresse Mercia Sias.
Sias is op 13 Mei in die Mediclinic Paarl ná ‘n stryd met neurologiese lupus oorlede, het haar suster, Sylvia Matthee, bevestig.
“Sy was ‘n besonderse bibliotekaresse wat ook betrokke was by uitstallings, die opening van biblioteke by skole en om groot netwerke te bou. Mercia was baie leergierig en sy het ‘n goeie balans in lewe gehad, tussen haar loopbaan, ma-wees, vrou-wees en haar ander verantwoordelikhede.”
Sias was baie bekend in die gemeenskap, veral onder diegene wat gereelde besoekers aan plaaslike biblioteke is. Ten tyde van haar dood was sy die senior biblioteekaresse by Groenheuwel-biblioteek in Paarl-Oos.
“Die kinders het sommer vir haar juffrou genoem. Ek verneem daar is steeds van die kinders wat by die Groenheuwel-biblioteek vra wanneer kom juffrou terug. Mercia het ‘n sagte plekkie in haar hart gehad, veral vir Dal Josafat Primêr en kinders wat nie so bevoorreg is nie. Sy het gehelp dat hulle die nodige hulpbronne vir hul biblioteek kry.”
Die 54-jarige Sias, wat in Junie haar 55ste verjaarsdag sou vier, was ook ‘n groot vreugde vir haar geliefdes.
“Sy was baie stylvol met haar rooi kuif en klere en hoë hakke. Sy het ‘n manier gehad om mense aan te trek en het beslis ‘n vertrek opgehelder wanneer sy ingestap het. Mercia het regtig ‘n gesels gehad vir enige mens. Sy sal onthou word vir haar goeie waardes, haar karakter, haar mooi en ruim hart en haar ope hande wat altyd gereed was om te deel . . . Haar dood het skielik gekom . . . Sy en haar dogter het ook ‘n baie noue band gehad.”
Sias is in 2016 as die naaswenner van Library and Information Association of South Africa (Liasa) se bibliotekaresse aangewys. Die medelye wat instroom is ‘n bewys van haar nalatenskap.
Sy laat haar dogter, Moesha, en man, Murdock, agter.