Dit was nog ’n trotse oomblik vir die Hoërskool Gimnasium Paarl toe die matrikulant Netje “Bibi” van Zyl onlangs as die eerste Mej. SA Aura gekroon is.
Die matrikulant vertrek hierdie week na Turkye waar sy aan die internasionale Mej. Aura gaan deelneem en haar land verteenwoordig.
“Ek voel bevoorreg om ons reënboognasie te verteenwoordig en gaan my bes doen om ons land trots te maak. Die wen sluit in ’n ongelooflike platform, vanwaar ek hoop om baie te kan doen en ’n verskil in jong meisies se lewe te kan maak.
“Ek wil pleit by meisies om op skool te bly en tot my campaign te help bydra om in sanitêre behoeftes te voorsien, sodat meisies nie hoef weg te bly [uit die skool] nie. Verder wil ek elke jongmeisie aanmoedig dat sy enigiets met harde werk en passie kan bereik, veral as sy nog jonk is.
“Die wen is ’n bewys dat net die Here weet wat jou lewenspad is. Ongeag wat in ons lewe aan die gang is nie en wat ons wil hê nie, Hy sal deure toemaak wat nie vir ons bedoel is nie, maar kyk net watter deure het hy vir my oopgemaak!”
Volgens Bibi, soos almal haar ken, het haar modelleringsafrigter, Bianca Edwards van Ace Models in Durbanville, haar sonder haar medewete vir die skoonheidskompetisie ingeskryf .
“Sy was die een wat my gehelp het om my potensiaal in hierdie bedryf raak te sien. Omdat ek nuuskierig was oor pageantry, en hierdie geleentheid oor my pad gekom het, het ek dit met albei hande aangegryp. En hier is ek vandag – Mej. Aura SA 2024.”
Bibi meen toe die organiseerders haar inskrywing sien, het hulle belangstelling getoon en haar genooi vir ’n aanlyn Zoom-onderhoud.
“Daarna is ek aangewys as die eerste Mej. Aura SA. Die amptelike kroning is in Johannesburg gehou, waar ek aan die publiek en sosiale media voorgestel is, fotosessies gehad het en eerste aanpassings van die nasionale kostuum gedoen het.”
Bibi vertel haar kop “spin” nog, maar sê sy is baie trots op haarself en erken dat die wentitel waarmee sy onlangs gekroon is, ’n groot verantwoordelikheid vir haar inhou.
“Dit verg harde werk, toewyding en deursettingsvermoë. Hoewel die spanning hoog loop, sien ek uit om ons land se naam hoog te hou. Ek kom op 5 Oktober in Antalya, Turkye, aan, en daarna gebeur elke dag iets. Die halfeindronde is op 15 Oktober en die eindronde en kroning is Vrydag 18 Oktober. Op die 19de is daar steeds ’n fotosessie, en hoewel almal eers die 21ste terug na hul eie land toe sal vertrek, sal ek op daardie dag reeds terug wees in die matriek- eksamenlokaal besig met Engels en dan Afrikaans.”
Dit is van jongs af Bibi se droom om modelwerk te doen. Sy was net 14 jaar oud toe sy by Ace Models International se plaaslike tak in die dorp aangesluit het, en het só haar passie begin uitleef. Bibi vertel modelwerk het haar tot dusver baie dinge geleer, insluitend selfvertroue en hoe om haarself lief te hê – ongeag wat ander se opinies is.
Hierdie kompetisie is die eerste nasionale en internasionale kompetisie waaraan sy deelneem.
Die jong meisie verduidelik daar was al verskeie oomblikke in haar lewe dat sy gewonder het “hoekom het ek dit nie gemaak nie?”. Noudat sy die titel as Mej. Aura SA dra, verstaan sy dat haar tyd nog moes kom.
“Partykeer het ons sekere planne vir ons lewe, maar dit is nie God se plan nie. Ek wil jongmeisies aanmoedig om hul kop omhoog te hou en nie op te gee op dít waaroor hulle passievol is nie. Dit is vir my belangrik dat meisies weet dat hulle nie hoef te wag vir ’n man, ’n graad of toestemming vir grootword om hul drome na te jaag nie. Dit is nooit te vroeg om te begin nie en ons is sterk genoeg om meer as een ding op ’n keer te doen.
“Ons kan meer doen as wat ons dink ons kan. Ek is tans besig om voor te berei vir my matriekeindeksamen sowel as om my land internasionaal te gaan verteenwoordig met al die administrasie en geldinsameling wat dit behels. Dit kan gedoen word.”
Bibi werk nou saam met die Menstruation Foundation wat hom daarvoor beywer om menstruasie- armoede te bekamp.
“Daar is soveel meisies wat net nie skool bywoon nie as gevolg van ’n gebrek aan geld vir hierdie maandelikse gebeurtenis. Ek wil my laat hoor en aandag vestig op wat die Menstruation Foundation doen.
“Groot finansiering deur groot organisasies kan tot gevolg hê dat hulle ’n masjien in ’n skool kan installeer, waar ’n meisie met die ingooi van ’n skyfiedan ’n pakkie sanitêre produkte vir daardie maand kan kry. Skenkings help dat die stigting die masjiene kan diens en vol hou sodat elke meisie in die skool elke skooldag kan bywoon.”
Volgens Bibi is sy oorspronklik van die noordelike voorstede in Kaapstad, maar sedert 2020 woon sy in die koshuis om haar skoolloopbaan aan Gim te voltooi.
“Ek wil graag volgende jaar met die Augustus/September-inname kindersielkunde in Nederland gaan studeer. Ek het nog altyd ’n groot liefde vir kinders en dit het dus grootliks tot my loopbaan-keuse bygedra.
“My pa se ouma is in Nederland gebore en nuwe familie en vriende bly ook tans daar.
“Ek het ook ’n plan B wat oorsee studeer insluit.”
Tanya van Zyl kan nie genoeg beskryf hoe trots sy op haar dogter is nie.
“Sy verdien elke oomblik van die mooi wat nou na haar kant toe kom. Sy is ’n liewe kind met sterk idees in daai koppie van haar, maar só lief vir haar medemens. Ek het volle vertroue in haar om kop te hou en weg te stap met ’n rykdom van ondervinding.”