Bianca Baxter (middel), ’n bekende balletafrigter, word omring deur haar balletdansers. Voor is Caitlyn Rheeder, Tamsyn Geduldt (op Bianca se skoot), Janke van Zyl en Mia Fourie. Agter is Hanli van der Westhuizen, Mia Burger, Taylor Rheeder, Jana Burger en Isabelle Marais.Foto: Engela Duvenage


’n Kwarteeu gelede het Bianca Baxter ballet begin afrig. Sedertdien handhaaf sy nog altyd ’n redelik voorspelbare patroon oefeninge, optredes by eisteddfods, eksamens en jaareindkonserte by die Bianca’s School of Ballet in Wellington en die Paarl.

Vanjaar is dinge egter anders, want sy is ook besig om drie dansgroepe voor vir te berei vir die nasionale eindronde van die gewilde “Dans in jou taal”-kompetisie op kykNET.

Dit is die eerste dansprogram op Suid-Afrikaanse televisie spesiaal vir skoolgroepe, en die vierde reeks word tans geskiet. Die program sal op kykNET kanaal 146 uitgesaai word.

“Dis vanjaar my 25ste jaar as balletjuffrou, en vir ’n bietjie afwisseling het ek besluit om die uitnodiging te aanvaar om vir die Wes-Kaapse streekeindronde in te skryf,” sê Bianca, wat die Cecchetti- of Italiaanse styl ballet afrig.

Bianca het twee balletgroepe en ’n jazz-groep vir die streekeindronde in Julie in Somerset-Wes ingeskryf.

Groot was haar verbasing toe al drie haar spanne na die nasionale eindronde, wat teen die einde van Augustus in Pretoria verfilm word, deurgedring het.

Saam verteenwoordig die 30 leerders ses laer- en ses hoërskole in en om die Paarl en Wellington.

Die Liquorice-groep bestaan uit 8- en 9-jariges, die Umbrella Twirls is 11 of 12 jaar oud en die Jazzy Vibes-span bestaan uit meisies 13 jaar en ouer.

Sy het nou ’n logistieke uitdaging om die 30 ballerinas in Pretoria kry.

“Nie almal kan dit bekostig nie, dus moet ons geld insamel. Gelukkig het ek ’n puik span ouers wat my ondersteun en ’n geldinsamelingskonsert, die logistiek vir ons reis en die kostuums wat nodig is, gereël het,” vertel sy.

“Ek’t nie regtig gedink ons sal so goed vaar nie en het ingeskryf as ’n soort viering van my 25 jaar as balletafrigter,” vertel Bianca verder.

Mense wat haar ken, weet egter goed hoe vaardig en afgerond haar dansers altyd is. Hulle kry keer op keer net die hoogste lof van beoordelaars en troon uit as bekerwenners by plaaslike eisteddfods.

Hulle het in vanjaar se Paarlvallei-balleteisteddfod 19 trofeë vir ballet gewen, asook een vir kontemporêre dans.

Mense wat die toergroep wil ondersteun, kan Bianca by 082 690 0239 of Anmarie Stemmet by 082 790 5332 bel. . Bianca’s School of Ballet bied Sondag 18 Augustus 15:00 nog ’n geldinsamelingskonsert by Laerskool Hugenote aan. Kaartjies kos R50 en kan by Anmarie Stemmet (082 790 5332) bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.