Foto ter illustrasie. Foto: AFP
Foto ter illustrasie. Foto: AFP

Die Drakenstein munisipale raad het Vrydag (27 Junie) eenparig gestem om dringende humanitêre hulp te verleen by twee plase buite Wellington wat deel vorm van altesaam 14 plase in die munisipale gebied waar plaasbewoners sonder enige water, elektrisiteit en ander basiese dienste deur plaaseienaars gestrand gelaat is.

Die situasie by die Limietrivier en Leeurivier- plase buite Wellington is deur die raad beskryf as ‘n groeiende humanitêre krisis.

Die raad het onder meer gestem om die plaaseienaars tot verantwoording te roep.

Volgens Stephen Korabie, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, het die ANC in die raad die toestand by die twee plase onder sy kantoor se aandag gebring.

Nadere ondersoek het toe bevind dat daar minstens 14 plase in Drakenstein is waar bewoners sonder enige werk en basiese dienste “agter gelaat is”.

Korabie het op Vrydag se raadsvergadering gesê hy het sedertdien Limietrivier en Leeurivier besoek.

“Dit is ‘n groeiende humanitêre krisis. Daar is kwesbare individue, vroue en kinders.

“Die mense sit sonder water, elektrisiteit en sanitasie geriewe. Voedselsekerheid is ook ter sprake omdat hulle sonder werk sit.

“Ons onmiddellike reaksie was om die bewoners met die basiese dienste te voorsien. Ander departemente asook die provinsie sal vorentoe betrokke moet raak.”

Hy het gesê ondersoek sal deur die relevante departement ingestel word om te bepaal aan wie die plase behoort.

“As ‘n munisipaliteit sal ons geensins vrees om hierdie eienaars vas te vat nie. Hulle het geen berou getoon om mense wie hul sweet en bloed in die grond geploeg het, agter te laat nie.

“So, hulle sal dus die gevolge daarvan moet dra,” het hy bygevoeg.

Ingevolge die mosie wat op Vrydag se vergadering goedgekeur is, sal die munisipale bestuurder en ‘n afvaardiging eersdaags ‘n besoek aan die plase aflê om die omvang van die hulp benodig te bepaal.

Volgens Korabie is die bewoners by Limiet- en Leeurivier reeds van watertenks voorsien.

Hy sê die provinsie se hulp sal ingeroep word om die wetlike aspekte omtrent grondeienaarskap te fasiliteer.

You need to be Logged In to leave a comment.