Die Drakenstein-munisipale raad het Vrydag (27 Junie) eenparig gestem om drigende humanitêre hulp op twee plase buite Wellington te verleen. Dié plase val onder altesaam 14 plase in die Drakenstein-munisipale gebied waar bewoners sonder enige water, elekrisiteit en ander basiese dienste deur plaaseienaars gestrand gelaat is.

Die situasie op die Limietrivier- en Leeurivier-plase buite Wellington is deur die raad as ‘n groeiende humanitêre krisis beskryf en die raad het onder meer besluit om die plaaseienaars tot verantwoording te roep.

Volgens Stephen Korabie, Drakenstein se burgemeester, het die ANC in die raad die toestand op die twee plase onder sy kantoor se aandag gebring.

Nadere ondersoek het bevind dat minstens 14 plase in Drakenstein bestaan waar bewoners sonder enige werk en basiese dienste “agtergelaat is”.

Korabie het op Vrydag se raadsvergadering gesê hy het sedertdien Limietrivier en Leeurivier besoek.

“Dit is ‘n groeiende humanitêre krisis. Daar is kwesbare individue, vroue en kinders.

“Die mense sit sonder water, elektrisiteit en sanitasiegeriewe. Voedselsekerheid is ook ter sprake omdat hulle sonder werk sit.

“Ons onmiddelike reaksie was om die bewoners van basiese [munisipale] dienste te voorsien. Verskeie departemente en die provinsie sal ook dan moet betrokke raak.”

Hy het gesê ondersoek sal deur die betrokke departement ingestel word om te bepaal wie die plaaseienaars is.

“As ‘n munisipaliteit sal ons geensins bang wees om hierdie eienaars vas te vat nie. Hulle het geen hart getoon om mense wat hul sweet en bloed in die grond geploeg het, agter te laat nie.

“Hulle sal dus die gevolge daarvan moet dra,” het hy gesê.

Ingevolge die mosie, wat op Vrydag se vergadering gedien het, sal die munisipale bestuurder en ‘n afvaardiging eersdaags ‘n besoek aan die plase aflê om die omvang van die hulp benodig, te bepaal.

Volgens Korabie is die bewoners op Limietrivier en Leeurivier reeds van watertenks voorsien.

Hy sê die provinsie se hulp sal ingeroep word om die wetlike aspekte omtrent grondeienaarskap te fasiliteer.

You need to be Logged In to leave a comment.