– Volg van bladsy 1.
Volgens Khan het hy in sy gesprekke met die kliënte geen aanduiding van ’n spesifieke persoon gekry dat hy moontlik geviktimiseer is nie.
“Een persoon wat egter by my ’n klagte ingedien het, het aangedui dat dit sy eerste keer is dat hy die Haven-kliënteverhoudingsvorm gebruik, aangesien hy voel hy kan dalk geviktimiseer word.”
Oor die skoonmaak van die nagskuiling sê Khan dit is die verantwoordelikheid van die kliënte om hul eie ruimte sowel as die gemeenskaplike dele skoon te maak.
Volgens Khan het die kliënte met wie hy in gesprek was voor hul konsultasie geweier om te help om die eetgedeelte skoon te maak aangesien verskillende mense daagliks pligte toegewys word.
“Daar is ook deur ’n kliënt voorgestel dat die Haven enigiemand wat wil gaan voordat hulle hul pligte voltooi het, keer. Ons bereik dalk genoegsame konsensus oor die vlak van netheid en die manier om dit met Haven-hulpbronne en begunstigde arbeid te bereik,” het Khan gesê.
Oor die kostes per nag van die skuiling het Khan gesê die fooi is R15 per dag of een uur se arbeid in plaas van geld vir behoeftiges. Hy sê wel begunstigdes van toelaes of dié wat werk en meer as R2 500 verdien, moet R1 150 per maand betaal.
Khan sê die geld wat kliënte betaal, word gebruik om die Haven se uitgawes te dek.
“In September het die Haven fooie van R17 720 ingevorder wat 35% van die moontlike skuilingsfooie verteenwoordig indien almal sou betaal. Die Haven Paarl het in dieselfde maand R20 107 net aan elektrisiteit bestee. Gemiddeld 40% van gelde word ingevorder. Ons beëindig dienste aan enigiemand wat weier om skuilingsgeld te betaal as hulle in ’n posisie is om dit te betaal. Enigeen wat nie kan betaal nie, word vereis om te help met minstens een uur se arbeid in en om die skuiling.”
Ten opsigte van die Haven se siftingsproses sê Khan hulle weier nie toegang vir ’n kliënt wat onder die invloed is nie.
“Wapens word gekonfiskeer ingevolge die Haven-beleid. Dwelms en alkohol word in die teenwoordigheid van die eienaar gekonfiskeer en vernietig.”
Khan sê ook daar is een wasmasjien vir die was van beddegoed en klere deur kliënte wat nie in staat is om hul eie klere te was nie en dit kan gratis gebruik word.
“Die kwessies in die memorandum word hanteer soos meer inligting beskikbaar word.”
Esther Lewis, hoof van kommunikasie by die departement maatskaplike ontwikkeling in die Wes-Kaap, het aan Paarl Post bevestig dat die departement die memorandum Vrydagmiddag ontvang het en die bewerings hulle ondersoek word.


