Die man wat na bewering Oshwin Andries (19) van Klapmuts op 29 Januarie 2023 met ’n mes gesteek het waarna hy dae later – op 4 Februarie – in sy ma se arms dood is, is op borgtog van R500 vrygelaat.
Dimitri Jonker het die afgelope Vrydag (21 Junie) in die Paarlse-landdroshof verskyn – langer as ’n jaar nadat hy Oshwin na bewering in ’n kuierplek in Klapmuts met ’n mes in die kop en rug gesteek het.
Volgens die Paarl-landdroshof is die saak tot 23 Julie vir ’n streekhofdatum uitgestel.
Die landdroshof se staatsaanklaer was nie beskikbaar om navrae van Paarl Post te beantwoord nie.
Van dié vrae sluit in hoekom Jonker vir poging tot moord en nie moord aangekla is nie, asook hoekom hy op borgtog vrygelaat is.
Volgens Natasha Andries, Oshwin se ma, het die gereg haar gefaal omdat Jonker vir langer as ’n jaar op vrye voet in Klapmuts rondgeloop het voordat die Klapmuts-polisie hom verlede Dinsdag (18 Junie) uiteindelik in hegtenis geneem het.
Sy vertel met Paarl Post se besoek aan haar huis in Klapmuts dat die polisie haar ook nie in kennis gestel het dat Jonker Vrydag in die hof verskyn het nie.
Sy moes dié nuus by een van haar ander seuns hoor, wat dit op sy beurt by ’n vriend gehoor het.
“Die speurder [wat die saak ondersoek] het dit aan my seun se vriend gesê, maar nie daaraan gedink om my daarvan te sê nie.”
Volgens Natasha wil sy weet hoekom Jonker op borgtog van R500 vrygelaat is, aangesien hy ’n gewelddadige geskiedenis het en blykbaar ook ’n bendelid is.
“Dit gaan nie goed met ons nie. Hy [Jonker] loop hier rond asof hy niks verkeerd gedoen het nie.”
Natasha sê sy sal op 23 Julie in die hof wees, en sal daarna elke hofverrigting bywoon sodat geregtigheid vir haar seun kan geskied.
Die Paarl Post het na kapt. Jacobus Moos, die bevelvoerder van die Klapmuts-polisie, uitgereik. Hy het gesê die polisie het “geen” inligting oor die saak nie en het die koerant weggewys.
Volgens ’n berig in EikestadNuus (9 Februarie 2023) het ’n onderonsie tussen Oshwin en Jonker ontstaan toe Oshwin “grapperig” vir Jonker gevra het hoekom hy so naby aan Oshwin se meisie geloop het waar hulle in ’n straat in Mandela City in Klapmuts gestaan het.
Die onderonsie het vinnig tot ’n einde gekom waarna Oshwin en sy meisie, Ruché van Rooyen, na ’n kuierplek geloop het, luidens EikestadNuus.
Daar gekom, het Jonker oomblikke later die kuierplek na bewering met ’n mes in die hand binnegegaan waar hy glo Oshwin, asook ander wat in die kuierplek was, gesteek het.
Oshwin is ná die aanval met ’n ambulans na die Stellenbosch-hospitaal geneem, waar hy gestabiliseer is en ’n dag later (30 Januarie 2023) ontslaan is.
Nadat hy erge pyn is sy rug begin ervaar het, en ’n toeval by die huis gekry het, is hy ses dae later (4 Februarie 2023) op pad na die hospitaal oorlede.
Volgens Natasha is haar seun weens interne bloeding oorlede.
Oshwin was ’n verdediger vir die Stellenbosch-sokkerklub (SFC) en was tot nou die klub se jongste doelskieter in die DSTV-premierskap.
Oshwin was ook die kaptein van die Suid-Afrikaanse o.20-sokkerspan wat in die Afcon-Cosafa-uitdunrondes gespeel het.
“Oshwin het vanaf sesjarige ouderdom sokker gespeel. Hy was ’n goeie kind en baie grapperig. Hy was vol dinge en wou altyd alles mooi en reg hê.”
Oshwin is ’n oudleerder aan die Hoërskool Cloetesville in Stellenbosch.