Die nuus dat ’n luiperd ’n week gelede onwettig doodgemaak is in Agter-Paarl, aan die voet van Paarlberg, het groot hartseer onder bewaringsgesindes veroorsaak.

Toe ’n luiperd in Maart in die Paarlberg-reservaat deur ’n kamera afgeneem is, was dit die eerste keer in baie jare dat een van hierdie skaars pragdiere weer in ons omgewing opgemerk is.

Buiten die Kaapse Luiperd-trust wat die bewaring van ons Kaapse luiperds bevorder, is daar verskeie ander instansies soos Cape Nature en spesifiek ook die Tafelbergtak van SA Jagters en die Wildbewaringsvereniging wat aktief betrokke is by verskeie bewaringsinisiatiewe.

SA Jagters het verlede jaar kameras geskenk aan Drakenstein-munisipaliteit om wildopnames in Paarlberg-natuurreservaat te doen, en dit is juis van hierdie kameras wat die luiperd by meer as een geleentheid afgeneem het.

Ons blydskap was van korte duur. In alle waarskynlikheid was dit dieselfde luiperd wat verlede week in ’n strik gevang is en na bewering deur plaaswerkers doodgemaak en afgeslag is.

SA Jagters is aktief betrokke by bewusmaking van die bewaring van skaars spesies en sal binnekort ook ’n program begin om strikke in en om die Paarlberg-natuurreservaat te verwyder.


Deon Erasmus, Vise-voorsitter, SA Jagters, Tafelbergtak,

wellington

You need to be Logged In to leave a comment.