’n 51-jarige bewaarder is by die Paardeberg-gevangenis sowat 20 km noord van die Paarl weens beweerde dwelmhandel in hegtenis geneem.

Vuyani Njwana was veronderstel om Dinsdag (12 September) op dwelmhandel-aanklagte in die landdroshof in die Paarl te verskyn, maar die aanklagte is intussen tydelik teruggetrek hangende die uitslae van ’n forensiese ondersoek, het kapt. Louise du Plessis, ’n polisiewoordvoerder, aan Paarl Post gesê.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap is daar geen rekord vir Njwana se hofverskyning nie.

Hy is op 11 September omstreeks 07:20 deur lede van die Bolandse honde- eenheid na bewering met tik, dagga en Mandrax in sy besit aangekeer.

Du Plessis sê die polisie het inligting ontvang dat Njwana vermoedelik dwelms by die gevangenis insmokkel. Die dwelms is in sy voertuig gevind.

Die polisie het nie die waarde van die dwelms bekendgemaak nie.

Die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap het die voorval by navraag aan Paarl Post bevestig.

“Die departement het met sy eie interne ondersoek na die voorval begin. Die betrokke beampte sal ’n interne tugverhoor ondergaan,” het Candice van Reenen, provinsiale woordvoerder van Korrektiewe Dienste, gesê.

Volgens van Reenen het haar departement die optrede in oorleg met die polisie uitgevoer.

“Hierdie optrede vorm deel van die departement se programme om te verseker dat ons fasiliteite instellings van rehabilitasie is en nie plekke waar dwelms en misdaad broei nie.”

Jacques Broodryk, die burgerregteorganisasie AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, het die voorval ten sterkste veroordeel.

“Dit is glad nie verbasend dat korrektiewedienste- beamptes by misdaad en smokkelary betrokke is nie. Daar was in die verlede al talle sulke gevalle. Ons sit met hoëvlak-politici wat gereeld by misdrywe betrek word en net eenvoudig daarmee wegkom. Hoe kan daar dan verwag word dat ander beamptes ingevolge die wet moet optree as die land se leiers dit nie eens doen nie.”

Nóg die polisie nóg die NVG kon bevestig wanneer Njwana weer in die hof sal verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.