Met die afsaag, voor die voet, van ongeveer 30 kroondenne by die De Poort-sportterrein is twee van Paarl Tuinbou se projekte vir die gemeenskap in die wiele gery!

Paarl Tuinbou is ook nie vooraf in kennis gestel hieroor nie – waarom?

Dit kon onder meer voorkom het dat Paarl Tuinbou verdere onkostes aangaan om byvoorbeeld die inligtingsbord by die labirint te hernu.

Die kroondenne rondom die labirint was ideaal vir die uitleg van die labirint. Hierdie kroondenne rondom die labirint was ook deel van Paarl Boomroete, bestaande uit 40 bome, wat ’n jaar later ingewy is. Dit was Boom 4 op die roetekaart wat strek van die Afrikaanse Taalmonument (ATM) en eindig by Paarl Arboretum se brug in Bergrivier-boulevard. Brosjures hiervan is steeds te koop by ATM.

Die kroondenne was ook ’n nalatenskap van die Franse Hugenote, wat sade saamgebring en geplant oral waar hulle hulself gevestig het.

Die munisipaliteit se kommentaar hieroor in “Bome val by De Poort oor en weer” in Paarl Post van 31 Augustus is ook vaag. Die residensiële komponent kan ook woonstelle insluit?

Ek begryp dat De Poort, byna direk langs die N1, die ideale plek vir toeristebusse is om te stop op die perseel van De Poort by die Paarl-toerismekantoor, wat hervestig moet word na hoeveel aantal jare. Die wens is ook outomaties dat bekwame personeel die Paarl-toerismekantoor sal dien tot voordeel van Paarl se waardevolle toerisme-trekpleisters.

Ook in Paarl Post van 31 Augustus word geskryf “Só lyk die planne vir Boy Louw”. Ook hier word na die “vervreemding” van dele van ons sportterreine, soos by Boy Louw- en Parys-sportterrein, verwys?

Dit sal baie kortsigtig wees! Die Paarl worstel reeds met druk verkeersprobleme en verdere hoëdigtheidsbehuising sal dié bestaande probleem vererger.

Alle huidige sport- en ontspanningsfasiliteite, soos onder meer Dal Josafat-stadion en die New Orleons-kampeerterrein, asook al bogenoemde sportterreine, moet eerder modern uitgebrei en suksesvol onderhou word. Voldoende parkering behoort op bogenoemde terreine geskep te word. Ons jeug is ons toekoms.

Die Drakenstein-munisipaliteit moet ook nie Victoriapark se grond langs die La Rochelle Meisieskool probeer vervreem nie. Dink groot! Dink jeug se toekoms op Paarl se sportvelde! Mandela sou dit ook aanbeveel het.


Retha Labuschagne (namens Paarl-tuinbou),

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.