Ek het onlangs besoekers van elders in die land gekry. Hulle wou onder meer graag vir hul kinders die Taalmonument en Paarlberg se rotse gaan wys.
Ons is toe die Vrydagmiddag berg toe en het eers by die monument gestop.
Ekself was baie lanklaas daar. Wat ’n plesier. Ek is skoon spyt ons het nie vooraf beplan om sommer daar in die mooi tuine piekniek te hou nie. Die terrein en monument is puik bewaar en baie mooi gehou.
Dis iets waarop ons Paarliete kan trots wees.
Volgende stop was Bretagne-rots, die grootste op die berg. Dit was net so lekker om in ons pragtige reservaat te ry en te kyk hoe mooi blom die fynbos. Die kinders het die rots so geniet dat hul ma hulle die volgende dag weer moes terugneem.
Baie dankie aan almal wat ons berg en trots bewaar. Hou so aan.


