Dit was vandeesweek ’n welkome bekendstelling deur die Wes-Kaapse regering van 122 splinternuwe BMW-hoëverrigting-hoofwegpatrollievoertuie wat toegerus is met die nuutste in innoverende tegnologie, soos kameras vir outomatiese nommerplaatherkenning (ANPR) om beter wetstoepassing op ons paaie te bewerkstellig.
’n Nuttige toevoeging tot verkeersbeamptes se voertuie is juis die ANPR-kameras. Enige nommerplaat kan onmiddellik deur middel van hierdie kamera’s geïdentifiseer word om vas te stel aan wie die motor behoort. Dit sal dus help met die opsporing van onpadwaardige en ongelisensieerde voertuie, gekloonde nommerplate en voertuie wat deur die polisie gemerk word as voertuie wat vermoedelik in die uitvoering van misdade gebruik word.
In die Drakenstein-vallei is sulke kameras reeds binne die dorpsgebied aangebring en private instansies soos die Drakenstein Farm Watch se vinnige reaksies hiermee het al verskeie kere tot inhegtenisneming van misdadigers gelei.
Met misdaad en wetteloosheid wat aan die toeneem is in die vallei, is dit van kardinale belang dat die Drakenstein-munisipaliteit meer gebruik maak van sulke gevorderde tegnologie en dat munisipale wetstoepassingsvoertuie ook met soortgelyke tegnologie toegerus word.