Beurtkrag affekteer elke mens in die land, maar dit bly letterlik ’n kwessie van lewe of dood as dit by noodsaaklike gesondheidsdienste kom.
Paarl-hospitaal se bestuur het bevestig dat die hospitaal, veral wat brandstofkostes betref, die impak van beurtkrag hewig ervaar.
Die fasiliteit het twee noodkrag-opwekkers. Die primêre dieselkragopwekker trek alle noodsaaklike areas terwyl die tweede dieselkragopwekker alle hysers en “plantrooms” bedien. Sou daar probleme met die eerste kragopwekker kom, sal die tweede kragopwekker outomaties die eerste kragopwekker se werkslading oorneem en die noodsaaklike areas bedien en so pasiëntveiligheid verseker.
Diesel word op tender gekoop, maar as verskaffers nie kan lewer nie, kan nooddelegasies gebruik word om aan te koop van enige verskaffer wat onmiddellik sal kan lewer. Lesings word na elke beurtkragsessie geneem, ook na-ure en oor naweke, en bestuur op roep word deurentyd oor die dieselvlakke ingelig.
Paarl-hospitaal gebruik omtrent 110 liter diesel per uur tydens beurtkrag, wat verdere druk plaas op die fasiliteit se begroting. Alle kliniese toerusting het ononderbroke kragtoevoertoestelle (UPS), maar skade word steeds veroorsaak aan kliniese toerusting en veral rekenaars en drukkers, wat tot verdere herstel en vervangingskoste aanleiding gee.
Die onlangse versoek van die provinsiale minister om Paarl-hospitaal (een van 10 hospitale in die provinsie) vry te stel van beurtkrag sal dus nie net groot verligting bring wat die hospitaal se begroting betref vir diesel nie, maar sal in die lange duur ook herstel- en vervangingskoste van toerusting verlaag.
Die Wes-Kaapse regering het juis onlangs aangekondig die provinsie word agtergelaat met die vrystelling van beurtkrag vir hospitale wat die minister van gesondheid aangekondig het, waarvan Paarl-hospitaal een is.
Nomafrench Mbombo, LUR vir gesondheid, het verlede week op ’n mediakonferensie gesê die nasionale departement van gesondheid se Rooi Kruis-kinderhospitaal, sowel as die Groote Schuur- en Tygerberg-hospitale gaan van beurtkrag vrygestel word, maar sy het ’n beroep op die nasionale departement van gesondheid gedoen om verdere vrystellings van noodsaaklike sentrums van dienslewering ernstig te oorweeg.
Sedert April het die provinsiale departement van gesondheid en welstand al R53 miljoen aan brandstof, olie en gas vir mediese geriewe bestee.
Toerusting vir die neem van X-strale, in radiografie en vir behandeling met bestraling benodig die meeste krag. Teaters, waakeenhede en ongevalle-eenhede loop ook onder beurtkrag deur.
Mbombo het ook die gevaar wat kragonderbrekings veral vir mense op ventilators inhou, beklemtoon omdat dit tot sterftes kan lei.
Vrydag het die nasionale departement van gesondheid gesê hy werk met Eskom en munisipaliteite saam om gesondheidsgeriewe sover moontlik van beurtkrag vry te stel.

