Inwoners van Noorder-Paarl is onsteld oor die talle kragonderbrekings wat dié buurt ervaar.
Buiten die beurtkrag wat deur Eskom ingestel word, is inwoners hier dikwels vir ure sonder elektrisiteit en eis hulle antwoorde by die Drakenstein-munisipaliteit.
Volgens ’n inwoner van Groenvlei in Noorder-Paarl was die buurt Vrydag van middernag af sonder elektrisiteit, en die krag het eers weer 05:00 aangekom – ’n uur voordat die krag weer as gevolg van beurtkrag afgeskakel is.
Hy sê ook die probleme met meer gereelde kragonderbrekings in Noorder-Paarl duur jare reeds en byna elke keer wat hy navraag doen, word ’n ander rede aan hom verskaf oor waarom die krag so baie af is.
“Dit was al die substasies in Retiefstraat, in Skoolstraat en die Palmiet-substasie. Daar was ook al ’n kabel wat in Skoolstraat ‘geblaas’ het. Deesdae kan hulle nie eens meer sê hoekom die krag af is nie.”
Ander inwoners het hulle die afgelope naweek tot sosiale media gewend omdat hulle nie weet waarom die krag in Noorder-Paarl steeds af is nie.
Volgens Marius Wüst, die uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, is die langdurige kragonderbreking die afgelope naweek deur twee kabelfoute op dieselfde ringtoevoer veroorsaak.
“Die fout kon dus nie net geïsoleer word en al die verbruikers weer met ’n ander roete bedien word soos wat die Drakenstein-munisipaliteit gewoonlik doen nie.”
Wüst sê ook die elektrisiteitsinfrastruktuur word die laaste tyd meer as gewoonlik afgeskakel.
“Die las tydens aanskakeling ná Eskom-beurtkrag veroorsaak ook bykomende skade, wat infrastruktuur-breuke en kabelfoute tot gevolg het. Die munisipaliteit moes eers bepaal watter een van die twee foute die minste tyd in beslag sal neem om te herstel. Die herstelwerk behels dat die spesifieke plek van die fout uitgewys moet word, waarna die kabel oopgegrawe moet word. Die foutiewe gedeelte van die kabel moet dan uitgesny word en ’n nuwe stuk moet ingelas word. Eers daarna kan dit weer aangeskakel word,” het Wüst verduidelik.
Volgens Wüst word herstelwerk vir noodsaaklike, veilige werke en dienslewering oor naweke en ná ure deur bystandpersoneel verrig, waarvoor die munisipaliteit ekstra tyd moet inbou.
“Ons beheerpersoneel maak seker dat alle klagtes gehanteer word en kommunikeer met almal indien die spesifieke probleem reeds aangemeld is en wel aandag geniet. Hulle probeer om die publiek te bedien, maar kan ongelukkig nie altyd die redes of spesifieke tegniese antwoorde (veral wanneer die foute nog ondersoek word) verskaf nie.”

