Die Wes-Kaapse Regering het Maandag (26 Mei) ‘n mylpaal bereik in sy verbintenis tot veiliger paaie en beter dienslewering met die bekendstelling van die Gemeganiseerde Toetsstelsel vir Leerlinglisensies (CLLT) by die Beaufort-Wes-bestuurslisensietoetssentrum.
“Om ons ekonomie te laat groei en meer werksgeleenthede te skep, moet ons verseker dat ons inwoners oor die nodige vaardighede beskik om aan die ekonomie deel te neem. ‘n Rybewys is ‘n belangrike vereiste vir baie poste, en daarom moet ons dit so maklik as moontlik maak vir al ons inwoners om hul rybewyse te bekom,” sê Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit.
By die bekendstelling is ‘n demonstrasie gedoen van die digitale toetstelsel wat die tradisionele handboek-metode vervang. Dié innovasie is daarop gemik om die leerlinglisensietoetsproses in die Wes-Kaap te transformeer.
Die nuwe stelsel word in vennootskap met die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) geïmplementeer, met die doel om die gehalte van bestuurders op Wes-Kaapse paaie te verbeter.
Voordele van die nuwe stelsel sluit in:
- Bevorder veiliger, meer verantwoordelike bestuur deur gestandaardiseerde toetsing;
- Ondersteun aansoekers met gehoorgestremdhede deur aanlyn instruksies in verskeie tale – sonder dat ‘n tolk nodig is; en
- Lewer vinniger en akkurater resultate deur onmiddellike digitale verwerking.
“Hierdie is nie bloot ‘n tegnologiese opgradering nie – dit is ‘n waardegedrewe transformasie. Die stelsel verseker dat elke aansoeker, ongeag vermoë, met regverdigheid en waardigheid behandel word,” sê Sileku.

Die toetsterminale, elk beveilig met vingerafdrukverifikasie, is direk gekoppel aan die nasionale verkeersinligtingstelsel (NaTIS) en genereer regverdige toetsvrae. Resultate word outomaties geverifieer en veilig verwerk, wat akkuraatheid en data-integriteit verbeter.
Die CLLT-klaskamer bestaan uit aanlyn selfdiensstasies, en ‘n 6 kVA onversteurde kragtoevoer om kontinuïteit tydens kragonderbrekings te verseker.
Alle Wes-Kaapse bestuurslisensietoetssentrums buite die metro is reeds met die nuwe CLLT-stelsel toegerus, en die Wes-Kaapse departement van mobiliteit is tans in gesprek met die Stad Kaapstad oor die uitrol van dié nuwe stelsel.
Inwoners kan afsprake maak vir leerlinglisensietoetse by ‘n bestuurslisensie- toetssentrum en vir hul toetse voorberei met gratis aflaaibare studiegidse van die www.natis.gov.za-webtuiste.