Toeriste en besoekers aan Franschhoek sal van 1 Julie R10 per uur moet opdok vir parkering in die dorpsgebied, nadat die Stellenbosch-munisipaliteit besluit het om ‘n betaalde parkeerstelsel in dié gewilde dorp se Hoofstraat te gebruik.
Die R10-fooi is ‘n universele bedrag wat reg oor die munisipaliteit, insluitend Stellenbosch, ingestel sal word.
Volgens Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit, sal parke- ring deur die munisipaliteit bestuur word, met geen eksterne kontrakteurs wat aangestel is om parkeergeld in te vorder nie.
“Altesaam 14 parkeerwagte sal vir hier- die doel in die Franschhoek-parkeerareas aangestel word en sal toepaslike opleiding ontvang om hul pligte doeltreffend te kan uitvoer,” sê Grobbelaar.
Hierdie stelsel is reeds in Stellenbosch van toepassing en die proses het volgens Grobbelaar eers deur ‘n openbaredeelnameproses gegaan voordat dit ingestel is. Dit sluit in ‘n kennisgewing in die Franschhoek Tatler in Februarie 2023 en plasings op die munsipaliteit se webtuiste sowel as hul sosialemediaplatvorms.
Franschhoek-raadslede is ook oor die proses ingelig en is verplig om die inligting met die publiek te deel.
Die betaalde parkering geld van 08:00 tot 17:00 op weeksdae en 08:00 tot 14:00 oor naweke. Besoekers wat die dorp dus voor of ná hierdie ure besoek, sal gratis kan parkeer, sê Grobbelaar.
“Ander amptelike parkering in sy-strate bly gratis, maar tydsbeperkings sal geld om billike gebruik en sirkulasie van parkeerplekke te verseker.
“Die besluit om vir parkering te betaal, is op strategiese beplanning gegrond, soos in die munisipaliteit se geïntegreerde vervoerplan (CITP) en geïntegreerde ontwikkelingsplan (IDP) vervat.
“Die hoofdoel van hierdie intervensie is om parkeerbehoeftes in reaksie op toenemende kommersiële en ekonomiese aktiwiteite in die dorpskern beter te bestuur,” sê Grobbelaar.
“Die bestuur van parkeerarruimtes help om toegang tot sakeondernemings te verbeter deur gereelde omset van parkeerplekke moontlik te maak. Dit is al in talle dorpe, insluitend Stellenbosch, bevind dat ‘n betaalstelsel voorkom dat ‘n motoris ‘n parkeerruimte vir ‘n hele dag lank opneem – wat talle ander besoekers en inwoners verhoed om daar te parkeer om ‘n bestemming te besoek.”
Gratis parkering is steeds beskikbaar –agter die stadsaal en op die hoek van Dirkie Uys- en La Rochellestraat.
Verskeie mense het hulle sedert die aankondiging na sosiale media gewend om hul misnoë uit te spreek.
‘n Aanlyn petisie teen die betaalde par- kering, wat op Change.org geskep is, het teen Paarl Post se druktyd reeds meer as 1 400 stemme bevat.
Die Paarl Post het na vyf sakeondernemings in Hoofstraat uitgereik om hul kommentaar oor die parkeerstelsel te kry, maar het geen terugvoer ontvang nie. Dié sakeondernemings sluit drie restaurante, een gallery en ‘n velsorgwinkel in.
Die Franschhoek erfenis- en belastingbetalersvereniging was ook nie beskikbaar vir kommentaar nie.