Suid-Afrikaners, insluitend Drakenstein-inwoners, sal dalk binnekort vir leerder- en bestuurderslisensies aanlyn kan aansoek doen.
Hierdie besluit is geneem as deel van die nasionale departement van vervoer se poging om tyd vir die publiek te bespaar en om die groot administratiewe werkslading van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) te help verlig.
Die nasionale wetgewing moet egter eers deur pres. Cyril Ramaphosa afgeteken word en daarna in die Staatskoerant vir openbare deelname gepubliseer word, volgens Japie Cornelissen, Drakenstein-munisipaliteit (DM) se hoof van verkeersdienste.
“Eers ná die [openbaredeelnameproses] sal dit wetgewing word en sal die Navisstelsel dienooreenkomstig aangepas word.
“Dan sal hierdie wetgewing ook van toepassing op die Drakenstein-munisipaliteit wees,” sê Cornelissen.
Volgens hom sal die implementering afhang van wanneer die nasionale departement van vervoer goedkeuring verleen voordat dit in die DM uitgerol kan word.
Indien die wetgewing slaag, sal die oorskakeling na aanlyn aansoekprosedures vir leerder- en bestuurders- lisensies een uitstappie minder na die verkeersdepartement beteken – én dat die lang rye wat daarmee gepaard gaan dalk iets van die verlede sou kan wees.
Addisionele veranderinge is deur die departement van vervoer voorgestel ten einde die wyse waarop bestuurs- toetse vir leerlingbestuurders tans plaasvind, aan te pas.
Meer klem sal geplaas word op praktiese bestuursvaardighede, en toetsroetes sal moontlik aangepas word om werklike bestuursomstandighede na te boots.
Die teoretiese toets sal ook hersien word om meer vrae in te sluit oor veilige bestuursvaardigheide asook voetgangerveiligheid.
Leerlingbestuurders kan vereis word om dokumentasie, soos ‘n geldige identiteitsdokument en bewys van adres, te verskaf wat geverifieer moet word voordat toetsbesprekings bevestig kan word.
Daarbenewens sal ‘n nuwe minimum ouderdomsvereiste ingestel word vir aansoekers van leerderlisensies binne sekere voertuigkategorieë, soos bepaal deur internasionale veiligheidstandaarde.
Byvoorbeeld, leerders wat aansoek doen om swaarvoertuiglisensies, moet minstens 21 jaar oud wees.