Dis tyd om ontslae te raak van die bestuur van die Wellington-klopse-vereniging – dis duidelik dat hierdie lede net daar is om hulself te verryk en nie vir die uitbreiding van ons kultuur nie.

Dis jare ná covid, en steeds het ons geen Klopsekompetisie nie. En ja, almal praat van die geweld en stout jeug, maar as die rugby op Pelikaanpark in die hartjie van die geweld kan voortgaan, wat staan in ons pad om klopse te loop? Dis duidelik dat die huidige leiers nie uit die boks kan dink en met nuwe inisiatiewe vorendag kan kom nie.

Wat verder ’n bitter smaak in my mond laat, is die berig van ’n paar weke gelede waarin onder meer gepraat word van die unie as die jeug wat die inisiatief gedryf het en die boodskap wat hulle aan ons gemeenskap wou gee. Die unie was nêrens by hierdie projek betrokke nie. Ek haal my hoed af vir die jongmanne wat die leiding geneem het. Ek dink dis tyd dat julle moet naderstaan en ons kultuur verder voer. In die berig maak die lid van bestuur melding dat die provinsie en Drakenstein hulle nie wou help nie, maar hulle noem nie dat hul aansoek laat was nie.

En so skuif hulle die bak jaarliks. Ek sien ook dat hul naam verander het en dat hulle nou ’n NPO is, wat ope vergaderings met die gemeenskap hou, maar hulle kan nie eens verslag doen van die geld wat hulle laas ontvang het nie. Wanneer laas het die unie ’n vergadering met belangstellendes gehou? As ek mooi kan onthou, is die laaste kompetisie nie eens deur hulle gereël nie, maar deur ’n maatskappy.

Ek sien nie ’n toekoms vir ons kultuur met die huidige manne aan die stuur nie. Maak ruimte vir die jeug!

Stigterslid, Tulips en Digger Boys WELLINGTON


You need to be Logged In to leave a comment.