Bestuur eksamen-stres só

Met die aanvang van die matriek-einde­k­samen oor ’n paar weke is dit heel normaal dat hoër vlakke stres onder matriek- en ander leerlinge heers.


Met die aanvang van die matriek-einde­k­samen oor ’n paar weke is dit heel normaal dat hoër vlakke stres onder matriek- en ander leerlinge heers.

Die matriek- sowel as gr. 11-eksamens is vir baie leerders die hoogste akademiese druk wat hulle tot dusver ervaar het. Die verhoogde stres is dus baie algemeen en iets wat elke leerder wat eksamen skryf, ervaar. Dit is belang­rik dat daardie stresvlakke bestuur word om ’n suksesvolle eksamen te kan aflê.

Dit is die raad van Albert Keet, ’n opvoedkundige sielkundige wat onlangs sy praktyk in die Paarl gevestig het. Hy was voorheen vir vyf jaar aan die Hoërskool Jan van Riebeeck en vir drie jaar aan die Duitse Internasionale Skool in Kaapstad verbonde en het ook ’n private praktyk in Parklands bedryf. Keet het sy kwalifikasies aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en het as opvoedkundige sielkundige met ’n BSc-graad, ’n nagraadse onderwyssertifikaat as agtergrond en ’n M Ed in opvoedkundige sielkunde gekwalifi­seer.

“Stres moet nie altyd in ’n negatiewe lig gesien word nie en kan in baie gevalle gebruik word as ’n bate om beter te presteer. Die bestuur daarvan is egter belangrik om te verhoed dat dit nie in angs omskakel nie. Angs is die struikelblok wat geskep word wanneer stres oorweldigend raak.

“Om mee te begin, is dit belangrik om die tekens van angs te herken. Dit sluit verhoogde irritasie, onvermoë om te fokus, uitstel, slapeloosheid en ’n gevoel van oorweldiging in. Daar is ’n paar maniere om stres te bestuur en angs te voorkom.”

Volgens Keet is die eerste ding om te doen om seker te maak ’n mens is goed georganiseer en dat jy duidelikheid het oor die studiemateriaal en notas.

Die onsekerheid oor notas en studiemateriaal is iets wat maklik opgelos kan word en kan onsekerheid wat tot angs lei, verminder. Skep dan ’n roetine waarby gehou kan word en wat vir jou werk. Dit gee ’n gevoel van veiligheid en orde. Dit skep ook ’n gevoel van sekerheid en dat ’n mens reg voorbereid is.

Die tweede is om fokus te behou op die volgende taak en te voel dat ’n mens vorder.

Skep ’n persoonlike rooster en trek die vakke dood wanneer hulle klaar geskryf is. Dit skep ’n gevoel van vordering en in baie gevalle verminder dit algehele stres oor die eksamen omdat ’n mens ’n visuele uitbeelding het dat daar vordering is.

Derdens kan stres bestuur word deur te rus en in voorafbepaalde tye te ontspan. Wanneer pouses geneem word, beweeg weg van die boeke af en doen ’n aktiwiteit wat ontspannend is. Dit sluit aktiwiteite soos verf, oefen, stap met die hond, bak, kook en slaap in.

Probeer om aktiwiteite wat frustrasie en alternatiewe stres vermeerder, soos videospeletjies, te vermy. Slaap is ook baie belangrik. Met die uitsetting van die roetine, maak seker dat daar genoeg tyd vir slaap ingereken word. Slaap is voordelig vir konsolidasie en herroeping van inligting.

“Op ’n akademiese vlak is dit belangrik om tot die beste van ’n mens se vermoë voor te berei. Gebruik die rekordeksamen as ’n leergeleentheid om te bepaal wat ten opsigte van studietegnieke gewerk het en wat nie. Nie alle vakke word op dieselfde manier geleer nie, en ’n sam­breel-benadering is nie altyd moontlik nie.

“Werk ou vraestelle uit en toets jouself. Probeer om nie na wiskunde-antwoorde te kyk voordat jy met die som gewerk het nie en gebruik die antwoorde as ’n gids en probeer die som van die begin af te doen sonder om weer na die antwoord te kyk. Leer om die vrae te ontleed, wat word gevra en hoe die antwoord gegee moet word. Is dit ’n analise, ’n puntsgewyse antwoord of as ’n paragraaf? Oefen om die vrae te kan ontleed om te bepaal presies wat gevra word en die tyd wat jy daaraan bestee, gegrond op die punte-uiteensetting.

“As jy skryf en jy ervaar ’n ‘blank’ of verhoogde angs wanneer jy die vraestel oopmaak, maak dit toe en neem ’n minuut of twee om ’n asemhalingsoe­fe­ning te doen om jou liggaam te laat weet jy is in beheer en jy kan die stres be­stuur. Haal diep asem – in vir vier sekon­des, hou vir sewe en blaas uit vir agt. Begin dan die vraestel met ’n vraag waarmee jy gemaklik voel.

“Die belangrikste is om nie moed te verloor nie; om te stres is alledaags. As jy ’n slegte vraestel gehad het, neem ’n ruskans die middag en probeer op die volgende toets fokus.

“Onthou, jy het al menige eksamen geskryf en geslaag om tot op die punt te kom waar jy is, en jy sal hierdie ook oorkom,” is sy raad. . Albert Keet is ’n opvoedkundige sielkundige met ’n praktyk in die Medicross-sentrum in Versterstraat.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.