Die oud-Boishaaier Hannes van Dyk is op pad om ’n volwaardige brandweerman te word nadat hy verlede jaar ’n ernstige beroerte beleef het.Foto: Verskaf


Talle jong seuns droom daarvan om eendag ’n brandweerman te word. Maar Hannes van Dyk van die Paarl het sy droom ten spyte van geweldige uitdagings bewaarheid.

Hannes, ’n oud-leerder van die Hoër Jongenskool Paarl, het pas uitpasseer as brandbestryder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM).

Hy was Vrydag (6 September) een van 36 nuwe brandbestryders van die KWDM se Brandweer-opleidingsakademie in Stellenbosch, wat by die brandweergemeenskap verwelkom is tydens die voorstellingsparade waar die merkwaardige prestasies van die Winterklas van 2024 gevier is.

Die seremonie het ’n indrukwekkende optog, kloklui-seremonie en hoendervleis-waardige driloefeninge ingesluit.

Dié gegradueerdes het van 12 Mei tot 6 September vanjaar intense en strawwe opleiding ondergaan, onder meer in Brandbestryder 1 en 2 en Hazmatbewustheid en -bedrywighede. Die klas is deur hul instrukteurs geprys omdat daar geen kwessies met dissipline was nie en omdat hulle ’n merkwaardige 100%-slaagsyfer vir die Hazmatbedrywighede-kursus behaal het – ’n eerste in die akademie se geskiedenis.

“Ek is baie trots op elkeen van julle. Jul toewyding, spanwerk en deursettingsvermoë het vir julle ’n plek onder die beste brandbestryders besorg. Ek sien uit daarna om saam met julle te werk tydens voorvalle met die wete dat ons saam ’n verskil sal maak en ons gemeenskappe veilig sal hou,” het Heinrich Louw, hoof van die Opleidingsakademie vir die KWDM se Brandweerdienste, in sy finale toespraak aan die gegradueerdes gesê.

Die opleidingsprogram het sowel teoretiese as praktiese aspekte gedek, met die fisieke komponent wat dikwels die meeste eise gestel het.

Hannes was boonop op 18-jarige ouderdom die jongste student wat dié uiters intense opleiding ontvang het.

Hannes was verlede jaar nog ’n matriekleerder by Boishaai. Hy was nog altyd ’n fikse en gesonde jongman wat veral hierop gefokus het.

Maar sy skoolloopbaan en moontlike toekoms het verlede jaar byna tot stilstand gekom toe hy op 17-jarige leeftyd ’n beroerte gehad het terwyl hy by die skool was.

Dit was ’n reuse-skok vir die hele gesin.

Hannes was vir weke in die hospitaal se waakeenheid en dokters het gevrees hy sou met langdurige gebreke weens moontlike breinskade gelaat word.

Sy motoriese vaardighede is onder meer grootliks aangetas en ’n lang pad van intensiewe rehabilitasie het gevolg om sy loop-, praat- en skryfvaardighede te herstel.

Die herstelproses was danksy dié hulp en die feit dat Hannes jonk en gesond is, vinniger in vergelyking met ouer mense.

Ook het sy en sy gesin se vasberadenheid om hom weer op die been te kry, tot sy vermoë om ’n normale jong lewe te kan lei, bygedra.

Hannes vertel dat hy reeds voor sy beroerte getob het oor watter loopbaan hy ná skool wou volg en brandbestryding was een daarvan.

“Toe ek weens my beroerte in ’n ernstige toestand in die hospitaal was en met die ongelooflike sorg wat ek van al die mediese personeel ontvang het, het ek daar reeds besluit dat ek ook wil teruggee aan die gemeenskap en ’n brandweerman wil word.”

Hannes het in Januarie by die KWDM se brandweerdienste as reservis aangesluit.

“Ons reserviste is werklikwaar vanuit die staanspoor by die diepkant ingegooi omdat die 2024-brandseisoen – die ergste in meer as ’n dekade – die Boland in ’n wurggreep gehad het.

“Ons het baie lang ure brande in afgeleë gebiede in baie moeilik omstandighede bestry, wat soms baie gevaarlik was. Ons het baie vinnig vaardighede geleer, ook dissipline en spanwerk, wat uiters belangrik is.

“Die bystand en opleiding wat ons van ons senior offisiere ontvang, is ongelooflik. Hulle monitor pal ons bewegings en as daar enige gevaar vir ons in byvoorbeeld ’n bergbrand is, word ons veiligheid eerste gestel.

“Ek het ongelooflik baie in ’n relatiewe kort tydjie geleer en ek sien uit na my volgende opleiding wat kom om ’n volwaardige brandweerman te wees.”

Die gegradueerdes kom van reg oor die provinsie en uit verskillende vlakke van die samelewing.

Hierdie uiteenlopende groep was ’n voorbeeld van die eenheid en samewerking wat die brandbestrydingsgemeenskap definieer.

“Die Kaapse Wynland-distrik is geweldig trots op julle. Ons is vol vertroue dat julle met eer, integriteit en ’n onwrikbare verbintenis tot die veiligheid van ons mense sal dien. Wanneer julle jul uniform aantrek en jul plek in ons brandbestrydingsgeledere inneem, moet julle weet dat julle ’n verpersoonliking van moed, onbaatsugtigheid en dienslewering is,” het die KWDM se burgemeester, Elna von Schlicht, tydens haar toespraak aan die gegradueerdes gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.