Die jaar 2024 lê op sy rug en almal is moeg en uitgeput.

Vir sommige was dit ’n goeie jaar en vir ander was daar tevore beter jare. Tog kyk ons na vore met die hoop dat 2025 vir ons beter dinge sal inhou.

In Drakenstein was dit ’n jaar propvol nuus – interessant, skokkend, hartseer, ensovoorts. Ou Kees het groot opspraak gemaak, asook die voormalige burgemeester Conrad Poole, om nie te praat van die stadsbestuurder, Johan Leibbrandt, nie, maar kom ons laat dit daar. Die ontydige en tragiese sterftes van talle jongmense het almal se harte verder as die vallei se grense geruk. Die nare onthullings oor die Drakenstein-krematorium het skokgolwe deur die gebied gestuur, wat baie ontstel het.

Die feestyd het ook nie op ’n goeie noot begin vir ’n paar gesinne van Amstelhof wat vandeesweek al hul besittings in ’n brand verloor het nie. Aangesien ons in ’n seisoen van omgee is, mag ons diep in ons harte kyk na hoe ons ons medemens kan bystaan.

Mag almal ’n geseënde Kersfees en ’n voorspoedige Nuwejaar hê. Diegene wat reis, wees veilig op die pad en geniet die tyd saam met familie en vriende. Moenie vergeet om vriendelik te wees met kelners en almal wat ons kuiertjies die moeite werd maak nie.

Cheers tot volgende jaar!

You need to be Logged In to leave a comment.