Die ontwikkeling van ’n vlagskip-bessieplaas is tans onderweg in die hartjie van die Perdeskoen (Blouvleiweg) in Wellington.
Maar hoewel hierdie reuselandbou-ontwikkeling ’n baie goeie ekonomiese inspuiting vir die gebied beteken, is verskeie inwoners onthuts hieroor.
Die besturende direkteur van United Exports wat die bessieplaas oprig, Jon Salters, het in ’n verklaring gesê die projek is reeds in die beginstadium met oeste wat spesifiek vir die uitvoermark bedoel is. Hy het gesê dit is ’n groot ekonomiese hupstoot vir Wellington en die eerste oes word vir September 2018 in die vooruitsig gestel.
“Dit beloof aansienlike volhoubare maatskaplike en ekonomiese voordele vir die gebied, insluitende broodnodige bykomende werk en direkte belegging van meer as R70 miljoen, met uitsondering van die waarde van die landbougrond,” het Salters gesê.
Indigo Berries word bestuur deur United Exports, wat ’n langtermyn-huurkontrak met Bonugraph (Edms) Bpk., die grondeienaar, het.
“Ons (United Exports) het goedkeuring van Erfenis Wes-Kaap om bloubessies aan die buitewyke van Wellington te verbou. Die stuk grond is deur die vorige eienaar vir wingerddoeleindes aangewend. Ons landbouaktiwiteite op Ernita-plaas berus op uitgebreide en intense spesialisnavorsing deur landboukundiges en owerhede.
“Dus is addisionele of nuwe permitte nie nodig nie. Indigo Berries sal sowat 64 hektaar van die 115 hektaar waarop wingerdbou voorheen bedryf is, vir bessieverbouing benut.”
Oor bekommernisse wat uitgespreek word oor toenemende verkeersvloei in die gebied weens die ontwikkeling, het Salters erken dit kan toeneem weens die landbouaktiwiteite maar steeds in reële verhouding met die vorige landboubedrywighede.
“Veiligheid en sekerheid is egter hoog op ons prioriteitslys,” bevestig Salters.
“Wat werknemers betref, sal ons hoofsaaklik uit die huidige plaaslike werkmag put. Ons sal sowat 65 voltydse poste hê wat in oestye tot 650 kan groei om die produk markgereed te kry.
“Skaars vaardighede wat nie plaaslik beskikbaar is nie, sal van buite gewerf word, maar opleiding aan ons werkers sal eers oor drie jaar gestalte kry. Ons wil egter so veel as moontlik plaaslike arbeid in diens neem wat oor hul eie behuising beskik. Geen nuwe of addisionele behuising sal aangebring word nie.”
Oor kritiek wat gelewer is oor die ontwikkeling wat sal afbreuk doen aan die estetiese waardes van die gebied, het Salters gesê Indigo Berries is hiervan bewus en sal voortbou op die legendariese bestaan van Ernitaplaas en die aanliggende plase.
Ander inwoners van Blouvleiweg kla op hul beurt oor die moontlike nadelige uitwerking wat hierdie ontwikkeling op hul eiendomswaardasies sal hê.
“Wat die impak op eiendomswaardasies van aanliggende eiendomme betref, het ons rede om te glo ons belegging sal die omgewing positief met ons uitvoerproduk beïnvloed.”
Salters sluit af om te sê dat Indigo Berries se produk wêreldklas gaan wees en inderdaad ’n pronkstuk vir Wellington sal wees – soortgelyk aan gehaltewyne vir die uitvoermark waaraan Wellington ook legendaries is.
“Ons sien met belofte uit om hande met alle rolspelers om Wellington te vat en te herdefinieer tot ’n volhoubare wêreldklas-bloubessiebestemming – nog ’n pluimpie in hul hoed.”