Die regulasies oor besoektye by die Paarl-hospitaal het baie mense erg onthuts gelaat, maar die Wes-Kaapse departement van gesondheid verduidelik hoekom die reëls ingestel word.
By dié hospitaal kan net twee mense per besoektyd ’n pasiënt in die hospitaal besoek.
Dié twee mense kan dus alleenlik vir die volle duur van die besoektyd tyd by die pasiënt deurbring, en ongelukkig nie uitruil met twee ander besoekers nie.
“Ons personeel moet tydens besoektye steeds voldoende mediese sorg aan ons pasiënte bied, daarom beperk ons besoekers tot twee per pasiënt. So verseker ons dat ons personeel genoeg ruimte het om na ons pasiënte om te sien, en ook dat ons pasiënte, besoekers en personeel veilig is,” sê Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die departement.
“Uitsonderings word gemaak vir onder andere pasiënte wat op sterwe lê. Besoekers kan reëlings tref met die behandelende dokter of verpleegbestuurder.
“Besoekers of pasiënte van die hospitaal kan enige tyd terugvoer gee deur met die eenheidsbestuurder te praat sodat hul vrae onmiddellik beantwoord kan word. Jy kan ook ’n SMS na 31022 stuur, die tolvrye hulplyn by 0860 142 142 skakel, ’n Please call me na 079 769 1207 of e-pos na service@westerncape.gov.za stuur.”
Besoektye van Maandae tot Vrydae is van 15:00-16:00 en 19:15-20:15.
Oor naweke en op openbare vakansiedae is besoektye soos volg; 11:00-12:00; 15:00-16:00 en 19:15-20:15.