Onderwysers en onderwysunies gaan voort om die besluit om volgende jaar altesaam 2 407 onderwysposte in die Wes-Kaap te sny, teen te staan.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het onlangs die aankondiging gedoen oor die drastiese stap wat hulle noodgedwonge moet neem. Dié besluit volg nadat die nasionale regering begrotingsbesnoeiings aangekondig en laat weet het hy sal nie sy oorspronklike loonooreenkoms kan nakom nie.
David Maynier, die Wes-Kaapse se LUR vir onderwys, het voorheen verduidelik die nasionale regering betaal net 64% van die nasionaal onderhandelde loonooreenkoms. Dit plaas massiewe druk op die WKOD om die oorblywende 36% te finansier. Die tekort kom op R3,8 miljard te staan.
Volgens die departement is die plan dat hy nie onderwysers wat op kontrak werk, se kontrakte kan hernu nie. Maynier sê die nasionale finansiële besnoeiings bedreig ook die voortbestaan van kritieke leerderondersteuningsprogramme.
Brett Herron, die GOOD-party se sekretaris-generaal en lid van die Wes-Kaapse parlement, is van mening dat die regering van nasionale eenheid sy moue moet oprol en keer dat die besnoeiing van poste voortgaan.
“Hoewel begrotingsbeperkings alle provinsiale onderwysdepartemente raak, is die Wes-Kaap skynbaar die enigste provinsie wat weier om geld rond te skuif om die gaping te vul, al het hy die keuse en die hulpbronne om dit te doen. Suid-Afrika het reeds ’n kritieke tekort aan onderwysers. Vyf maande gelede het die minister van basiese onderwys aangekondig dat die departement begin werf het om die tekort van 31 000 onderwysers in die land aan te vul.
“Die impak van die tekort aan onderwysers veroorsaak dat klasse groter sal word, veral by skole in minder gegoede gebiede. Die nasionale riglyn is ’n verhouding van een onderwyser tot 30 leerders, maar in baie gevalle is die verhouding reeds meer as 1 tot 50. Die Wes-Kaap sê hy het geen ander keuse nie as om die aantal onderwysers te besnoei, wat eenvoudig nie waar is nie. Die feit is dat die Wes-Kaap werksverliese vir onderwysers kan vermy deur sy diskresionêre finansiering aan ander sektore te besnoei.”