Beskuldigdes borgtog geweier

Emosies van skok en ongeloof het op verslae familielede en vriende se gesigte gerus toe die 18-jarige Nigel Plaatjies, ’n top-langafstandatleet en oud-leerder van Hugenote Hoërskool, se aansoek om borgtog saam met die van sy oom, Johannes Plaatjies (


Emosies van skok en ongeloof het op verslae familielede en vriende se gesigte gerus toe die 18-jarige Nigel Plaatjies, ’n top-langafstandatleet en oud-leerder van Hugenote Hoërskool, se aansoek om borgtog saam met die van sy oom, Johannes Plaatjies (34), in die Wellington-landdroshof geweier is.

Die twee beskuldigdes vir die moord op die bekroonde Wellington-skrywer Winnie Rust (77), het Donderdag 23 Junie hul lot aangehoor toe landdros Alvin Saptoe sy uitspraak in hul borgtogaansoek gegee het.

Buiten aanklagte van moord staan albei ook tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Rust se liggaam is op 11 Mei deur haar man, Manie, op die kombuisvloer van hul huis in Uitsig gekry.

Sy is verwurg.

Nigel is twee dae ná die moord in Wellington in hegtenis geneem, terwyl Johannes ’n paar dae later in Montagu vasgetrek is.

Saptoe het gesê na aanleiding van die ondersoekbeampte, ao. Nico de Lange, se getuienis vroeër het die staat ’n sterk prima facie saak teen die twee beskuldigdes.

Hy het verwys na De Lange se getuienis dat die verdagtes tussen 15 en 20 minute ná die moord die oorledene se bankkaart gebruik het om geld te onttrek, sowel as verskeie aankope met haar kredietkaart gemaak het by winkels in die Paarl. Die aankope is ook in Nigel se besit gevind.

Saptoe het gesê Johannes het 12 vorige veroordelings wat soortgelyk is aan die klagtes waarop hy tans tereg staan en dat dit in belang van die gemeenskap is om die gemeenskap daarteen te beskerm.

Hoewel Nigel geen vorige veroordelings het nie en ook nie blyk om ’n gevaar vir die publiek in te hou nie, staar hy wel ’n langtermyn gevangenisstraf in die gesig sou hy skuldig bevind word.

Hy het ook nie sy volle samewerking aan die polisie gegee nie. “Hy het verskillende weergawes in die verklarings gegee.

“Daar is ’n sterk prima facie saak teen beskuldige een (Nigel), al is dit net vir borgtogdoeleindes.”

Hy het ook daarna verwys dat Nigel die oorledene goed geken het en haar gereeld by die huis besoek het.

Saptoe het aangevoer dat hoewel Nigel in sy polisieverklaring gesê het dat hy deur Johannes gedreig is om hom met die misdaad te help, het hy ’n kernrol in die beplanning gespeel.

“Sy betrokkenheid was nie net beperk tot voor die pleging van die misdryf nie, maar dat hy deurgaans betrokke was.”

Saptoe het gesê die beskuldigdes se verklarings oor waarom hulle op borgtog vrygelaat moet word, is meer gekarakteriseer deur wat hulle nie gedoen het nie as wat hulle gedoen het.

“Die hof is nie oortuig dat hulle omstandighede aangevoer het wat hulle vir borgtog kwalifiseer nie. Die beskuldigdes se vrylating op borgtog word van die hand gewys.”

Saptoe het ná sy uitspraak die saak tot 12 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel. Daar word op die forensiese verslae en twee addisionele verklarings gewag.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.