Ek dink nie dit is wys om kinders te jonk aan tegnologie bloot te stel nie, en veral nie om vir hulle ’n foon te koop nie.
Namate tegnologie meer gevorderd geraak het, kan ’n mens ook argumenteer dat dit gevaarliker geraak het, en kinders verstaan nie altyd hierdie gevare wanneer hulle jonk is nie.
Jong kinders van laerskool-ouderdom is, verstaanbaar, meer naïef as tieners op hoërskool. Indien hul wel ’n foon het, maak seker dat jy as ouer weet wat daarop is en wat daarop gedoen word.
Jou kind sal wel voel hy het geen privaatheid nie, en kwaad raak vir jou, maar dit is veel beter as die ander gruwelverhale daar buite, soos byvoorbeeld kinders wat misbruik word deur volwassenes, of geboelie word deur ander kinders wat dan (dalk) uiteindelik kan lei tot jou eens joviale kind wat tekens van angs of depressie toon.
Dit wat op sosiale media of op die web gesit is, bly vir ewig daar, al dink jy dit is uitgevee. Dus strek jou en jou kind se digitale voetspoor veel verder as waarvoor enige van ons begrip het.
Dit is normaal vir ’n kind om te eksperimenteer, maar hierdie eksperimente gaan geskied op hul foon.
Maak dus seker wanneer die tyd aanbreek, hulle verwittig word van die gevare.