Die Ou Meulhuis in Blakestraat in die Paarl. Die huis is agter die Ou Meul-teater.Foto: Argief

Credit: SYSTEM

Onwettige besetters van die Ou Meulhuis in Blakestraat in die Paarl is ingevolge ’n hofbevel finaal die trekpas gegee en sal “eersdaags na alternatiewe behuising verhuis”.

Só het Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste gesê.

Die Cupido-familie beset die meulhuis reeds langer as ’n dekade, met die uitsettingsproses wat reeds in 2013 deur die DM aanhangig gemaak is.

Sedertdien het die proses gesloer weens die howe se rompslomp en dit het belastingbetalers deur die jare nog meer in regskostes gekos.

Die besetters is familie van die veroordeelde bedrieër Samuel Cupido, wat aan bedrog skuldig bevind is nadat hy in 2006, saam met drie ander munisipale werkers en nog ’n vrou, in hegtenis geneem is, volgens ’n vorige artikel deur die Paarl Post.

Sy inhegtenisneming het verband gehou met bedrog van R3 miljoen by die munisipaliteit, het die artikel berig.

“Cupido en twee ander beskuldigdes, almal [gewese] werkers by die [Drakenstein]-munisipaliteit, het met diensverskaffers gekonkel om die munisipaliteit te laat betaal vir dienste wat nooit gelewer is nie,” lui die artikel.

Cupido is skuldig bevind en is ná ’n kort vonnis weer op vrye voet.

Volgens die uitsettingsbevel was die gesin veronderstel om die Ou Meulhuis op 16 Februarie 2024 te ontruim, het Johaar gesê, maar woon steeds daar.

“Die gesin sal eersdaags verhuis na alternatiewe behuising wat deur die DM beskikbaar gestel word,” luidens Johaar.

“Volgens ons [die DM se] kennis woon Samuel Cupido nie meer in die huis nie.”

Die huis word tans deur agt mense beset.

“Die uitsettingsbevel het lank geneem omdat die [DM] se aksies onderhewig is aan die hofproses en die hof se tydslyn,” het Johaar verduidelik.

Die DM het tans 44 sake van onwettige okkupasie. Dertien van hierdie sake word ingevolge “die administratiewe proses soos bepaal deur die munisipale raad se behuisingsbeleid” hanteer.

Volgens Johaar word deurlopende opnames deur die DM uitgevoer wat vasstel hoeveel ander munisipale persele onwettig beset word.

Paarl Post was in gesprek met die Cupido-familie, wat besluit het om kommentaar oor die uitsetting te weerhou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article