FRANSCHHOEK – ’n 42-jarige CapeNature-brandbestryder is Saterdagoggend (17 Januarie) suksesvol uit die Stettynskloof-berggebied tussen Franschhoek en Du Toitskloof gered nadat sy die vorige nag beseer is terwyl sy aan ’n brandbestrydingsoptrede deelgeneem het.
Volgens ‘n verklaring deur die Wilderness Search and Rescue (WSAR) is reddingspanne laat Vrydagaand (15 Januarie) in kennis gestel dat die brandbestryder ’n beenbesering opgedoen het terwyl sy gehelp het om ‘n brand in die afgeleë berggebied te bestry. Weens die ruwe terrein en donker toestande was dit nie moontlik om haar dadelik te onttrek nie en sy moes die nag op die berg deurbring.
Die brandbestryder se kollega het egter by haar gebly en deur die nag oor haar gewaak om haar veiligheid te verseker totdat hulp met dagbreek ontplooi kon word.
Saterdagoggend is ’n veel-agentskap-reddingsoptrede van stapel gestuur met ‘n klein reddingspan van die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en welstand se reddingshelikopter, wat in samewerking met die departement van waterwese en bousbou, CapeNature en die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se branddienste ontplooi is.
LEES OOK: Wegholveldbrand verwoes historiese rietdakhuis in die Paarl
Noukeurige beplanning deur gespesialiseerde WSAR-spanne het reeds Vrydagaand ’n doeltreffende kommunikasieraamwerk daargestel, wat dit moontlik gemaak het vir die reddingsoptrede om ondanks die uitdagende en afgeleë ligging veilig voort te gaan.
Reddingspersoneel het die steil en ruwe terrein versigtig aangedurf om die beseerde brandbestryder te bereik. ’n Paramedikus het noodsaaklike behandeling op die toneel toegepas, waarna die beseerde brandbestryder per helikopter na ’n nabygeleë landingsone vervoer is.
Van daar is sy in die sorg van ambulansdienste geplaas vir verdere vervoer na ’n hospitaal.
Die reddingsoptrede is kort voor 11:00 Saterdag suksesvol afgehandel.
Die koerant het na Cape Nature vir kommentaar uitgereik, wat bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.
Franschhoek-brand
Brandbestrydingspanne van die KWDM, saam met verskeie ander vennote, maak steeds goeie vordering met die veldbrand by La Motte naby Franschhoek wat Saterdag (17 Januarie) uitgebreek het.
Volgens ‘n verklaring deur die KWDM is twee brandlyne steeds aktief. Ses bemande brandbestrydingsvoertuie, ondersteun deur ’n grondspan van CapeNature, het deur die nag aan die aktiewe brandlyne gewerk. Koeler nagtemperature het gehelp om brandbestrydingspogings te ondersteun en die verspreiding van die vuur te beperk.

Geen skade aan eiendom of ander verliese is tot dusver aangemeld nie en daar geen beserings is aangemeld nie.
Vars brandbestrydingspanne is Maandagoggend (19 Januarie) ontplooi om die optrede voort te sit en die brand verder onder beheer te bring.
Mitchell’s-pas
Intussen is die KWDM ook Sondag (18 Januarie) na ’n afsonderlike veldbrand in Michell’s-pas ontplooi. Een gekontrakteerde grondspan is tans op die toneel, terwyl twee nuwe spanne Maandagoggend ontplooi sou word om brandbestrydingsaktiwiteite voort te sit.





