Die Wes-Kaapse departement van landbou, in samewerking met die Bergrivier-tafeldruif-produsentevereniging (BTPV) en die Wellington-landbouvereniging, het Woensdag 28 Augustus sy jaarlikse prysuitdelingseremonie vir die landbouwerkerkompetisie vir die Bergrivier-streek gehou, waartydens landbouwerkers hul pryse by ’n spoggeleentheid ontvang het.
Nosindiso Pepu van Indigo Berries (Wellington) het met die prys as wenner in middelbestuur weggestap en is ook as Bergrivier se streekwenner vir 2024 aangewys. Baie geluk, Pepu!
Pepu is 29 jaar oud en het haar reis in landbou by die geleentheid opgesom.
“Ek is in ’n klein Oos-Kaapse dorp, Bizana, gebore en het daar grootgeword. Ek het my B-Tech in landbou-oes-produksie by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) voltooi. Ek werk as in middelbestuurder by die bessieplaas Indigo in Wellington. Ek het in 2019 as deel van ’n gegradueerde program by Indigo aangesluit. Ek het oor die laaste vyf jaar betekenisvol gegroei – van internskap tot middelbestuursvlak. Ek is passievol oor my werk, want ek hou baie van wat ek doen. Dit motiveer my om my beste te lewer.
“Om op hierdie gebied erkenning te kry, laat my baie trots voel. Ek hoop dit sal baie mense – veral jong swart vroue in die bedryf – inspireer om ondanks alles ’n plek vir hulself in landbou te bewerkstellig.”
Die wenner van die afdeling Beste Presterende Plaas is die Le Roux-groep, wat Mooikelder Boerdery en Broodkraal Landgoed insluit.
Die landbouwerker-kompetisie het in 2002 begin.
Die Wes-Kaapse departement van landbou het in 2005 by die kompetisie betrokke geraak. Die hele idee hieragter is om erkenning aan landbouwerkers te verleen.
Altesaam 15 streke in die provinsie neem aan hierdie kompetisie deel.
Die landbouwerkers kom vir 11 afdelings inskryf om teen mekaar mee te ding.
Die afdelingswenners gaan op 19 September teen die ander 14 streke uit die Wes Kaap se afdelingswenners aan die volgende ronde van beoordeling deelneem.
Die landbousektor het ’n groot en belangrike plek in die landelike ekonomie en is ’n groot werkverskaffer wat kos vir almal se tafels voorsien.
Volgens Liezl Jonker van BTPV was daar vanjaar 201 deelnemers uit die landbousektor in die Bergrivier-Streek.
“Tydens die onderhoude kon jy sien hoe passievol en trots elke werker op hul werk is en hul bydrae wat hulle die landboubedryf bied. Ons wil produsente aanmoedig om hul landbouwerkers vir die jaarlikse landbouwerker-kompetisie in te skryf.”Die wenners in die afdelings is:
. Algemene werker: Carlo Philander, Irene-plaas;
. Administratiewe personeel: Gertruida Lourens, Bokkeveld Partnership;
. Maatskaplike ontwikkeling: Elizabeth Julies, Bosman Adama;
. Voorvrou/-man: Geraldine Willemse, Indigo Berries;
. Besproeiingsoperateur: Johannes Engelbrecht, Middelpos;
. Tegniese operateur: Keobiditse Modisane, Middelpos;
. Drywer: Morné Skippers, Irene;
. Junior bestuur: Andries Jacobs, Rietkloof; en
. Middelbestuur: Nosindiso Pepu, Indigo Berries.