Marshall Dampies van die Bergrivierspan is as speler van die wedstryd aangewys.Foto: Charl Williams


Bergrivier se eerste span het Saterdag (8 Februarie) op die Weltevrede-sportveld in Wellington Ceres met drie lopies gewen.

Die Boland- 50-beurte-promosieliga-krieketwedstryd is in versengende hitte gespeel, en in 33 grade Celsius het Wellington behoorlik gekook.

Ceres het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Aqeep Douman (30 van 42 balle; 2×4, 1×6) en Conroy Baron (16) het die beurt geopen. Albei spelers is terug kleedkamer toe danksy die boulwerk van Jo-Earn Zimri. Die veteraanspeler/-afrigter Fabian Arendse (2) kon net vier balle trotseer.

Dit het gelyk of die maer jare vir die span van Bergrivier, wat sesde op die punteleer is, sou voortduur, maar toe Devon Claasen (21, 1×4) en Randall April (78 van 89 balle, 12×4) voor die penne was, het dinge vir die manne van Wellington beter begin lyk.

Die ervare April het weer eens sy slag met aggressiewe kolfwerk gewys en baie waarde tot die Bergrivier-span gevoeg. April en Claasen het ’n vennootskap van 52 lopies van 102 balle opgebou.

Bergrivier het uiteindelik 209/9 in sy toegelate 50 beurte aangeteken.

Ceres moes 210 lopies haal om die wedstryd te wen, maar het vroeg twee paaltjies verloor danksy uitstekende boulwerk deur Marshall Dampies. Daniel du Plessis (85 van 115 balle, 5×4) het moedig vir Ceres probeer, maar was ook ’n slagoffer van Dampies en Ceres is vir 207 uitgeboul.

Dampies, wat ’n boulontleding van 5/36 in sy 10 beurte gehad het, is as speler van die wedstryd aangewys.

Bergrivier se volgende wedstryd is Saterdag 15 Februarie teen Young Peoples van Paarl by die Daljosafat-stadion.

You need to be Logged In to leave a comment.