More (8
Julie 2020) sou die 59ste Bergrivier-kanomarathon in die Paarl afskop. Maar
vanjaar gaan veelvuldige Berg-wenner, Hank McGregor man-alleen die 240 km tussen Paarl en Velddrif aandurf.
Die rede
hiervoor – die Covid-19-pandemie het gekeer dat hierdie wêreldbekende
kanomarathon kan plaasvind, en in sy plek het
die organiseerders ’n virtuele kanomarathon tot stand gebring.
Maar dit is
met groot spyt dat kanovaarders nie die Berg vandeesweek kan aanpak nie, juis
omdat die rivier ná goeie reën reeds sterk vloei en nog reën word vanaf
Donderdag verwag.
Die
virtuele-marathon, Ultra Paddle, is wêreldwyd baie goed ontvang met roeiers vanuit alle oorde wat ingeskryf het daarvoor. Die Ultra Paddle het reeds die vorige rekordinskrywing
vir die Berg-marathon oorskry, en tientalle word steeds verwag in die dae voor
die Ultra Paddle einde Julie eindig.
Roeiers die
wêreld oor kan in vier dae die afstand van 240
km voltooi om ’n goue sertifikaat te verdien, of as alternatief kan die afstand
voor die einde van die maand voltooi word om ’n silwerertifikaat los te slaan.
’n
Bronssertifikaat kan verdien word deur 50 km of meer in die Ultra
Paddle-venster te voltooi. Hierdie is spesifiek gemik op die jeug en diegene
nuut aan die sport.
Brandon
Macleod, ’n organiseerder van die byeenkoms, sê die Berg gaan oor
langafstand-roei. “Alhoewel daar geen vergelyking is met die behoorlike
Berg-marathon met sy bome, kanale, uiterste weer en onvoorspelbare water nie,
is dit uit die reaksie op die Ultra Paddle-konsep duidelik dat daar groot
affiniteit en respek vir die Berg Marathon-uitdaging is.
Wanneer die
venster Woensdagoggend oopgaan, sal Suid-Afrikaanse roeiers op hul plaaslike
oefenwaters regoor die wêreld saamtrek om op hul uiteindelike mikpunt uit te
kom.
Groepe van
gretige Berg-aanhangers sal op Thames in Londen, in Asturië in Spanje, aan die
Lake Okanagon in Kanada, in die waters van Kalifornië, op die waterweë in
Ierland, Hong Kong en Australië en in baie ander lande regoor die wêreld roei.
“Meer as
enigiets is dit ’n ongelooflike teken van solidariteit,” sê Macleod. “Die
wêreld is op die knieë gebring deur die koronavirus, maar hierdie nuwe
uitdaging het mense op so ’n positiewe manier bymekaar gebring.
“Hierdeur
samel ons ook geld in vir ’n voedselverligtingsprogram vir Kanovaart Suid-Afrika, wat ’n verdere mate van
betekenis toevoeg tot elke inskrywing wat ontvang word en elke kilometer wat
geroei word,” het hy bygevoeg.
Woensdagoggend
sal elf keer Berg-kampioen McGregor uit die Paarl vertrek op ’n solo-reis op
die Bergrivier hiervoor.
Dit is
bedoel om die gees van die Berg lewendig te hou, en te bou aan belangstelling
in die 60ste bestaansjaar van die wedren in 2021.
Meer
inligting kan gevind word op www.berg.org.za.