Hoewel leerders van die Noorder-Paarl Hoërskool reeds oefen op die veld van die Sanddrift-sportterrein is dit nog nie duidelik wanneer die skool die sportterrein ten volle in gebruik sal neem nie.

Die skool het twee maande gelede ’n gebruiksooreenkoms met die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur onderteken wat die skool die alleenmandaat gee om die fasiliteit te gebruik.

Die fasiliteit was eens ’n plek van glorie waar verskeie sportbyeenkomste plaasgevind het voordat dit verlate gelaat is. Oor die jare heen het die afgeskeepte sportterrein vreemde karakters gelok en verskeie misdadige aktiwiteite is in die omgewing aangemeld. Die fasiliteit is ook oor die jare gevandaliseer en is deur die Drakenstein-munisipaliteit as onveilig bestempel.

Paarl Post het vier jaar gelede berig die munisipaliteit het ’n hofaansoek ingedien om die Sanddrift-fasiliteit te sloop. Drakenstein het toe gesê die hofaansoek volg ná “talle klagtes deur inwoners oor die toestand van die stadion en die gevaarlike toestande wat dit aanmoedig deur misdadigers en ongure karakters na die woonbuurt te lok”.

Maar waar die meeste mense ’n probleem gesien het met die fasiliteit, het die skoolhoof Natalie Arendse ’n gulde geleentheid gesien vir die leerders. Sy en gemeenskapslede het die departement genader om uit te vind hoe die fasiliteit, wat aangrensend aan die skool is, op die oomblik benut word, aangesien Noorder-Paarl sportgeriewe benodig. Hulle het die departement toestemming gevra vir die gebruik van Sanddrift.

Op 5 Augustus het Arendse saam met Patricia de Lille, minister van die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur, die gebruiksooreenkoms geteken. De Lille het gesê: “Die departement se verantwoordelikhede sluit in om die ooreenkoms te monitor om te verseker dat bedryfsdoeltreffendheid van die gebou gehandhaaf word en die gebruiker voldoen aan die bepalings en voorwaardes van die ooreenkoms. Die departement het hom daartoe verbind om opknappings te doen om die geriewe op peil te bring.”

Volgens Arendse kan sy nie op die oomblik baie uitbrei oor die herstelplanne vir die fasiliteit nie. Sy het wel bevestig leerders oefen op die veld, maar geen opknapping het nog plaasgevind nie. “Ons leerders oefen reeds op die veld. Ongelukkig is die geriewe nog nie verbeter nie. Ons sal die veld inwy [wanneer alles opgeknap is]. As daar enige donateurs is wat graag wil help met die instandhouding van die fasiliteit, sal ons dit baie waardeer.

“Ek, sowel as die skool, bly van mening die verkryging van gebruiksreg van die sportveld is ’n absolute noodsaaklikheid vir ons skool, maar ook vir ander skole in ons gemeenskap en waar ons ook ander skole kan akkommodeer. Oor die ander inligting kan ek nie nou kommentaar lewer nie en daar is redes daarvoor.”

Diegene wat ’n donasie aan die skool wil maak, kan 021 872 7016 skakel..Although learners from Noorder-Paarl High School are already training on the field of the Sanddrift sports facility, it is not yet clear when the school will make full use of the sports ground.

You need to be Logged In to leave a comment.