Vrouemaand in Augustus word vanjaar gevier met die jaarlikse Winnie Rust-pryse waarvoor benoemings nou ingewag word.
Wellington se vroue het deur die jare bewys dat hulle in staat is om bo hul omstandighede uit te styg. Winnie Rust is só geïnspireer deur ’n vrou soos Martha Solomons, Suid-Afrika se eerste swart gravin, wat die titel gedra het as “Countess of Stamford”.
Uit haar agting vir verskeie vroue wat diep spore getrap het, het Winnie ’n aantal boeke geskryf wat op hul lewe gegrond is – Martha, gravin van Stamford; Margie van die Seminary, Trek en Katryn.
Winnie Rust se ontydige dood in 2016 het aanleiding gegee tot die jaarlikse toekenning om Winnie se rol in die gemeenskap te gedenk. Die Winnie Rust-prys word geborg deur die Winnie Rust-stigting, die Wellington-museum, die Wellington-ATKV-gesinstak, Ouma Granny Projekte en die Vriende van die Wellington-museum.
Vroue wat benoem word, moet ’n randfiguur wees wat ’n “heldin” in haar eie gemeenskap is en wat bo haar omstandighede uitstyg – ’n vrou wat swaarkry en uitdagings in iets goeds kan omskakel. Dit moet ’n vrou wees wat iets regkry en geleenthede raaksien en benut en boonop aan die gemeenskap teruggee.
Alle skriftelike benoemings moet by die Wellington-museum ingegee of per e-pos gestuur word aan Wellington Museum by e-pos welmus@telkomsa.net. Boenoemings sluit Donderdag 27 Junie.
Kontak Christine Siebrits by 083 231 7027 of per e-pos by d.j.s@mweb.co.za om in te skryf.