Bendeverwante geweld het die afgelope naweek die lewe van ’n Wellingtonner Jenojoey Fredericks (32) geëis nadat hy Saterdag om 20:30 op die hoek van Arend- en Pelikaanstraat geskiet is.

’n Betroubare bron beweer dat die voorval die gevolg is van konflik onder verskeie bendes in die dorp en weer nagtelike chaos in die gebied ontlont het.

“Dit het maar te doen met beheer oor grondgebied onder sommige bendes, wat selfs tieners insluit, wat met dwelmsmokkel-bedrywighede verband hou,” verduidelik hy.

“Die man is twee keer getref en het Sondag aan sy wonde beswyk.”

Die Wellington-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, bevestig ’n saak van moord word ondersoek.

“Die slagoffer het saam met die ooggetuie op die hoek van die straat gestaan toe twee verdagtes hom genader en geskiet het. Hy is in die maag en rug geskiet.

“Die ooggetuie het die man huis toe geneem en die ambulans ontbied, waarna die slagoffer na Paarl-hospitaal vervoer is,” berig Barkhuizen.

Dit volg ’n maand ná ’n 14-jarige tiener deur polisie in hegtenis geneem is vir die besit van ’n vuurwapen.

Die Paarl Post het vroeër berig oor ’n bendebakleiery wat Sondagoggend (28 Augustus) net ná middernag groot oproer in Wellington veroorsaak waarin ’n 14-jarige seun deur die polisie in hegtenis geneem is.

Barkhuizen sê dié bakleiery onder bendelede het omstreeks 00:08 in Pelikaanstraat uitgebreek.

“Ons het verskeie oproepe oor die voorval van die publiek ontvang. Die 14-jarige is tydens die voorval in hegtenis geneem op ’n aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.”

Barkhuizen bevestig die tiener is ’n bendeverwante verdagte.

You need to be Logged In to leave a comment.