Die strate van Wellington gaan stil wees op en ná Nuwejaar, met die Klopse se optredes wat gestaak is weens misdaad.Argieffoto: Lise Beyers


Die strate van Wellington sal stil-stil die nuwe jaar ingaan in die afwesigheid van die vrolike passies en ritmes van die tradisionele Klopse-vertonings.

So sê die voorsitter van die Drakenstein United Coon Carnival, William Walters, en dit is weens die toename in ernstige bendegeweld in verskeie gebiede van Wellington.

“Dit is met spyt dat die Klopse-unies saam ’n besluit geneem het om nie met die jaarlikse Klopse-kompetisie voort te gaan nie.”

Walters sê dat die feestelike klanke van die Klopse in Wellington ’n jare lange tradisie is wat op Tweede Nuwejaar begin en die hele Januarie voortduur.

“Ongelukkig is ons bevrees dat dit meer kwaad as goed sal inhou om in die nuwe jaar daarmee voort te gaan. Dit is as gevolg van die toename in bendeverwante geweld wat Klopse-musikante en studente teiken.”

Walters sê dat hulle vroeër reeds met oefeninge en voorbereidings vir die Klopse-seisoen begin het, en is toe al reeds geteister deur misdaad.

“Daar was die afgelope ruk verskeie insidente waarin ons musikante se instrumente geteiken is.

“Baie van hierdie musikante is nog jonk en hulle is deur bendelede geteiken en hul instrumente is gesteel, sommer so op pad na die oefeninge toe.”

Hy sê verder dat baie van hul lede te voet na Klopse-byeenkomste moet gaan en so word hulle sagte teikens.

“Die risiko wat die seisoen nou inhou is te hoog en ons wil nie ons lede verder aan misdaad blootstel nie. Ons gaan dit nie waag dat hierdie aanvalle in meer ernstige voorvalle kan ontaard nie.”

Walters sê dat die Klopse-byeenkomste gevolglik nie gaan plaasvind nie, veral nadat hulle ook samesprekings met Wellington se polisie hieroor gevoer het.

“Die bevelvoerder van Wellington-polisie, kol. Johan Barkhuizen, het ons sterk aangeraai om eerder veilig te wees, aangesien die polisie hul hande vol het met bendeverwante insidente soos klipgooiery en dies meer.”

Barkhuizen het by navrae bevestig hy het Walters aangeraai om enige Klopse-aksies tot verdere kennisgewing te staak.

“Bendegeweld is besig om lelik kop uit te steek in verskeie gemeenskappe. In terme van Klopse-aktiwiteite was daar al gevalle waarby lede wat besig is om te marsjeer hul messe uithaal en onder mekaar messteek,” voer hy aan.

Skade weens klipgooiery

Barkhuizen voeg by dat insidente van klipgooi weer handuit ruk en dat owerhede oor die algemeen raadop is om die probleem behoorlik hok te slaan. Dit is so algemeen en buite beheer dat nie alle slagoffers sulke voorvalle eens aanmeld nie.

Volgens die administrateur van die Wellington Aksie Groep (WAG/Stop) op Facebook, Stephan Landsberg, word meeste voorvalle op sosiale media aangemeld soos dit hoofsaaklik in Sektor 2 plaasvind.

“Brandpunte van klipgooiery word meesal in Pelikaanstraat-, Bloekomlaan-omgewing aangemeld, en klipgooiery word ook soms in Jan van Riebeeck-rylaan oorkant Diemersfontein aangemeld,” sê Landsberg.

“Klipgooiery gebeur hoofsaaklik deur jong kinders, enige ouderdom van so jonk as nege jaar,” sê Barkhuizen.

“Soms is dit ’n roekelose speletjie of selfs ’n kompetisie, soms is dit ’n oorlogsone, van waar huise, dakke, vensters, watertenks en motors met klippe bestook word.”

Nie net hou dit hope gevaar vir mense in nie, maar so ook die owerhede wat poog om die gewelddadige insidente te bekamp.

“Ons grootste probleem om die geweld aan te pak is dat dit deur kinders in groot getalle gepleeg word. Die wet beperk ons wat betref die maniere om openbare orde te herstel deur iets soos traanrook of rubberkoeëls teen die kinders te gebruik.”

Barkhuizen meen ook nóg ’n element wat die probleem vererger is die afwesigheid van verantwoordbare ouers.

“Die kinders is ledig en hul aandag word nie op goeie waardes toegespits nie. Die ouers is tussen die chaos teenwoordig en sal eenvoudig net toekyk hoe hul kinders met klippe teen ander mense en besittings uitvaar.

“Hulle doen eenvoudig niks om hul eie jong kinders in toom te hou nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.