Suid-Afrika gaan gebuk onder bendegeweld, waaronder groot dele van die Wes-Kaap – onder meer die Boland en Breedevallei – spesifiek ly.
Verskillende bendes, soos die Hard Livings en The Americans op die Kaapse Vlakte, asook die “nommer”-bendes of number gangs, wat veral in Suid-Afrikaanse tronke aktief is, is vir meer as 120 moorde net tussen 24 en 30 Junie verantwoordelik.
Die nommer-bendes is hoofsaaklik in verskeie Suid-Afrikaanse tronke bedrywig, met die Pollsmoor- asook die Brandvlei-gevangenis wat vir heelwat bende-verwante aktiwiteite bekendstaan.
Die Wynland – en spesifiek die Drakenstein – is egter nie immuun teen hiérdie kwessie nie, met baie bendelede van dié bekende en gewelddadige bendes wat ook in die platteland woon en misdaad pleeg.
Verskeie bende-verwante aktiwiteite vind op ’n daaglikse basis in Paarl-Oos en Wellington plaas, asook binne die Breedevallei in Worcester in gebiede soos, onder meer, Roodewal en Avianpark.
Paarl Post het in ’n aanlyn artikel genaamd “Wynlandse dorpe steier oor groeiende bendegeweld”, wat op 12 Julie gepubliseer is, berig dat gebiede soos Groenheuwel en Chicago in Paarl-Oos vir groot bendegeweld verantwoordelik is.
In die artikel “Kinderbendes in Wellington kwel die gemeenskap ná twee moorde”, wat op 28 Junie aanlyn gepubliseer is, verduidelik ’n bron dat bendegeweld in die vorm van kinderbendes ook in Newton in Wellington toeneem en in Junie die lewe van twee mense op een dag geëis het.
Die 120 moorde wat in die laaste week in Junie gepleeg is, kan dus ook toegeken word aan dié gebiede in die Drakenstein en die Breedevallei, wat volgens bronne ’n toename in geweld ervaar het.
Volgens een bron – ’n inwoner van Groenheuwel – baklei die 27’s- en 28’s-bendes met mekaar oor wat aangeneem kan word grondgebiede, of te wel, turf wars, is.
Dié bendelede beweeg net soos ander misdadigers in die donker sodat niemand hulle kan identifiseer nie.
Die bron het aangevoer dat die bendelede ook minderjarig is, wat dit makliker vind om onskuldige mense se lewe te neem eerder as om skool toe te gaan.
“Hulle sien ’n enemy [van ’n ander bende] en skiet dwarsdeur almal om by die enemy uit te kom,” het ’n bron by ’n vorige geleentheid aan Paarl Post vertel.
Op ander tye skiet die bendelede – volwassenes asook minderjariges – iemand wat in die straat stap op pad werk of winkel toe, waarna die bendelede hul besittings steel.
Dié boewe besteel dus hul eie mense waar hulle grootgeword het om kos op die tafel te sit.
In dié gemeenskappe, wat uit hoofsaaklik die armer of laer-inkomste-gebiede bestaan, vrees die mense dus op ’n daaglikse basis vir hul lewe. Die meeste inwoners wil in vreedsame omstandighede leef, maar steeds sluit hulle hulself én hul sorgvrye kinders agter slot en grendel toe — asof hulle die oortreders is.
Die kinders kan nie ná sononder in die straat of agtertuin speel nie, en volwassenes durf nie voor sonop werk toe stap nie.
Elke harde klapgeluid laat inwoners sidder en wonder of dit ’n vuurwapenskoot is, waarna hulle na hul kinders se kamers hardloop om seker te maak hulle leef nog. Hierdie is net ván die uitdagings wat inwoners in bendegeteisterde gebiede ervaar, en is slegs die oortjies van die seekoei.
’n Diepgewortelde kwessie wat bendegeweld aanhits, is die sosio-ekonomiese probleme in armer of laer-inkomste gebiede, soos Groenheuwel, Chicago, Newton, of Roodewal en Avianpark. Werkloosheid, armoede, ongeletterdheid, dwelm- en alkoholmisbruik en huishoudelike geweld is voorbeelde van die opdraandes van dié gemeenskappe.
Hoe kan ’n kind homself bekommer oor die “regte pad” en skool bywoon as sy maag grom en pyn van honger terwyl sy ouers hul laaste sente aan drank bestee? Die makliker pad is dan die verkeerde pad, soos om by ’n bende aan te sluit wat 1) kos voorsien, 2) die minderjarige laat voel asof hy êrens hoort, 3) hom wegvat uit sy ouerhuis waar niemand vir hom omgee nie, 4) en hom vergoed in die vorm van geld of besittings.
Vir die eerste keer voel dié seun dan asof hy beheer het oor sy lewe, en nie afhanklik is van ouers wat hom nie versorg nie.
Hierdie manier van lewe stel die minderjarige egter bloot aan nóg meer geweld, tot op die punt waar hy ’n vuurwapen optel en binne ’n oogwink ’n ander se lewe sal neem.
Nietemin, volgens hom kom hy van niks, en nou is hy iémand en daardie gevoel en lewenswyse is moeilik om van afskeid te neem.