Bibi Slippers, digter van die veelbekroonde debuutbundel, Fotostaatmasjien, ontspan bietjie hier in die pragtige tuin van die Breytenbach-sentrum met 2017 se Tuin van Digters.Foto:


Opleiding in dagsorg, naaldwerk, skryf- en digkuns, optredes in Die Bôrdienghuis-restaurantteater en gemeenskapsprojekte soos doen, leer en lees vir skoolkinders is weer vanjaar op die program van die Breytenbach-sentrum in Wellington.

Die gewilde Tuin van Digters, wat nou al ’n nasionale instelling geword het vir digters en liefhebbers en ondersteuners van die Afrikaanse digkuns, word ook 14 en 15 September vir die sewende jaar aangebied.

Natuurlik bly die boekwinkel, The Book Traders, en die Breytenbach-galery onder kuratorskap van Anne-Ghrett Erasmus, besondere besoekplekke vir plaaslike, nasionale en internasionale besoekers.

Francois Lötter, bestuurder van die Breytenbach-sentrum, sê die sentrum is ’n positiewe en kreatiewe plek waar enige lid van die gemeenskap tuis kan voel om sy of haar talente uit te leef. Dit is vir elkeen ’n veilige hawe vir saamgesels, kuier, opleiding en die identifisering en ontwikkeling van uiteenlopende talente.

Lötter sê ’n groot projek wat vanjaar aangepak moet word en waarvoor almal se hulp nodig is, is die restourasie van die sentrum se geboue.

“Die sentrum was verlede jaar 10 jaar oud en nodige herstel- en opknappingswerk sowel as nuwe ontwikkelings moet nou gedoen word. Dit sluit in die vergroting van die kombuis in ’n gesellige en skeppende vertrek waar bykomende uitstallings van gemeenskapskuns ten toon gestel kan word, boekklubs se lede byeen kan kom en kleiner groepe vergaderings kan hou.

“Die onderste groot vertrek met deure wat op die stoep en na die tuin oopmaak, gaan ook aandag kry waar besighede en organisasies private strategiese sessies en vergaderings kan hou. Die vertrek beskik reeds oor ’n oorhoofse projektor en het plek vir 20 tot 30 mense.”

Volgens Lötter is die Breytenbach-­ sentrum as niewinsgewende organisasie afhanklik van skenkings en borgskappe vir die aanbied van die opleidings­projekte sowel as om die noodsaaklik opknappingswerk te doen.

Borge soos die Nasionale Lotery, die Rupert-stigting, die Wes-Kaapse department van kuns en sport, Naspers, die Nasionale Kunsteraad, die Drakenstein-munisipaiteit, die Dagbreek­-trust, Nederburg-wynveiling en ATKV het van die begin ruim finansiële bydraes gelewer.

Enigeen wat graag wil sien wat alles by die Breytenbach-sentrum gebeur, watter kursusse en konserte aangebied word, of betrokke wil raak met ’n borgskap, kan die webblad by www.breytenbachsentrum.co.za of die facebook-blad besoek of 021 873 2786 skakel.

Daar kan op die webblad ook ingeteken word op die maandelikse nuusbrief.

You need to be Logged In to leave a comment.