Die 11de Tuin van Digters vind vanjaar plaas Vrydag 7 en Saterdag 8 Oktober by die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Die hoogtepunte van vanjaar se program sluit in die huldiging van die digter Antjie Krog, die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ’n debuutbundel, ’n optrede deur Nederlandse digter, skrywer en teatermaker Babs Gons, die amptelike bekendstelling van Ons Klyntji, besprekings van nuwe bundels van onder andere Krog, Adam Small, Philip de Vos en Loit Sôls en uitsonderlike musiektoonsettings van gedigte.
Krog, gevierde Afrikaanse digter, skrywer, joernalis en akademikus wie se werk in verskeie tale vertaal is, vier in Oktober haar 70ste verjaardag. Verskeie gesprek- en musiekitems om haar en haar skryfwerk en prestasies te vier, is op vanjaar se program. Sy sal ook self aan van die gesprekke deelneem.
Die tema van vanjaar se Tuin van Digters is “*ek-is-jy-is” (’n Individu se menswees is geanker in ’n netwerk van menseverhoudinge: ek is omdat jy is; ons is omdat julle is.) Die groepkunsuitstalling, “eensaam tesame”, sluit hierby aan.Ander hoogtepunte sluit in:• ’n Spesiale viering van Krog in ’n program oor vertaling deur PEN- Afrikaans wat insluit Jolyn Phillips, Pieter Odendaal, Shirmoney Rhode, Mbongeni Nomkonwana, Frazer Barry, Deniel Barry en Jerzy Koch.• ’n Gesprek deur Louise Viljoen met die digter en Hertzogpryswenner Johan Myburgh oor sy bundel, Narreskip.• Gesprekke deur Daniel Hugo met die bekende Poolse akademikus Jerzy Koch oor Koch se tweede bundel in Afrikaans, Polkadraai, en met die sielkundige en visuele kunstenaar Gerhard Barkhuizen oor sy debuutbundel Smee.• Diana Ferrus se Mengelmoesdigters gaan liefhebbers van die digkuns op ’n dinamiese en kleurryke reis neem van die lewe.• Die digter Grant Jefthas praat met leerders van die Weltevrede Sekondêre Skool oor sy moeilike lewenspad tot waar hy sy debuutbundel AfvlerkMens die lig kon laat sien.• Dr. Thérèse Hulme, ’n bekende narratiewe terapeut, gesels oor haar boek, Praat jy! Idees vir die skep van ’n skryfkultuur in die klas.• In die Cloete-gemeenskapsgalery is animasies uit Krog se Mankepank deur kunstenaar Willem Samuel, vergesel deur ’n keuse uit sy comics en fantasie-kuns.• Wat musiek en gedigte betref, vertel Catherine du Toit en José Dias in woord en musiek oor ongehoorde liefdes en gapings tussen woord en wording.• Dan is daar Universum: ’n interaktiewe luisterervaring van die Afrikaanse mis Die Nuwe Verbond, ’n toonsetting van Krog se o Brose Aarde, ’n misorde vir Nuwe Verbond deur komponis Antoni Schonken.• Protea Boekwinkel en The Book Traders, sal boeke verkoop.• Frazer en Deniel Barry bring hulde aan Krog met nuwe toonsettings van haar gedigte, en Momo, al die pad uit die woestyn, sorg vir diep dink met haar stem en ukulele.• Die afsluitingskonsert deur Riku Lätti en bekende en onbekende en verrassende musikante en digters gaan spesiaal wees.
Tuin van Digters, word in samewerking met NB-Uitgewers moontlik gemaak danksy ’n bydrae van die Dagbreek Trust.
Kaartjiepryse is as volg: Toegang vir Vrydag 7 Oktober is R150 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 7 Oktober). Toegang vir Saterdag 8 Oktober is R250 per persoon (sluit alle aanbiedings op die program in vir 8 Oktober). Tweedagpakket vir Vrydag 7 Oktober en Saterdag 8 Oktober is R350 per persoon (sluit alle aanbiedings in vir albei dae). Studente betaal R100 per persoon per dag (met geldige studentekaart) en toegang is gratis vir opbetaalde lede van PEN-Afrikaans.
Besprekings: Jeannine by 061 156 5386.
Vir die program skakel 021 873 2786 of besoek www.breytenbachsentrum.co.za